Update Video
GOURITSMOND NUUS EN VIDEO - Die eienaars van die Gourikwa-natuurreservaat is besorg oor die groter bewaringsgebied waarvan hulle deel vorm.
Die reservaat van 2 000 ha ongerepte natuur is tussen Gouritsmond en Stilbaai aan die Hessequa-kuslyn geleë.
"Die geskiedenis van die eiendom het daartoe bygedra dat dit sowat 30 jaar lank onversteurd was deur menslike aksies," vertel Dave Savage, sakeman van Johannesburg en mede-eienaar van die natuurreservaat.
Die reservaat het oorspronklik vier plase in die Buffelshoek-gebied beslaan. In 1980 het die Atoomenergie-korporasie van Suid-Afrika die plase opgekoop en die gebied Gouriqua herdoop. Die doel was om 'n kernkragnavorsingstasie te bou, maar dit is in 1992 laat vaar. Tot in daardie stadium was Gouriqua 'n nasionale sleutelpunt wat dag en nag opgepas is.
Die heinings, met lemmetjiesdraad beveilig, is deur soldate bewaak, die see is met 'n boot gepatrolleer en enige vlugte oor die gebied was taboe. Selfs die hengelaars en die dekrietsnyers is verbied om die gebied te betree. Hoewel die navorsingstasie nooit tot stand gekom het nie, het hierdie streng maatreëls die natuur toegelaat om onversteurd tot 'n ongerepte staat terug te keer. In 1994 het die staat die grond verkoop aan die Duitser, Gerhard Rein en sy vrou, Monika. Hul droom was om 'n natuurreservaat te ontwikkel, wat hulle Rein's genoem het. Hulle het bestaande infrastruktuur begin opknap en verblyf in die vorm van kothuise en vissermanshuise gebou. Hulle het hoofsaaklik die natuur toegelaat om sy gang te gaan.
Na Monika se dood het Rein die plase stuk-stuk begin verkoop. In 2015 het Savage en sy vennoot die vier plase gekoop en dit Gourikwa herdoop. In 2016 het hulle begin om die infrastruktuur verder op te knap en uit te brei en dié proses duur voort.
"Die natuurlike fynbos is die tuiste van verskeie inheemse, skaars en selfs bedreigde spesies en die seelewe het herstel," sê Savage.
"Gourikwa vorm deel van 'n groter geheel wat ekologies onderling verbind is deur 'n uitgebreide waterryke vleilandsisteem.
"Ons doel is om hierdie onderlinge verbintenis te beskerm en vir ons nageslag te bewaar. Dit is hoekom ons bekommerd is oor ontwikkeling wat 'n nadelige invloed op die natuurlewe kan hê."
Savage en sy vennoot glo die langtermyn-bewaring is slegs moontlik in samewerking met ander sleutelrolspelers, soos buurplase, CapeNature, die Duineveld-kusvereniging en die Gourikwa-en Ystervarkfontein-bewareas.
Kyk 'n video hieronder:
Gerhard Rein, vorige eienaar van die eiendom, het die kapel in herinnering aan sy ontslape vrou Monika gebou.
Die oorspronklike staalstruktuur van die lighuis wat in 1964 by Ystervarkpunt in die reservaat geleë is, is in 2006 met 'n betonstruktuur vervang.
Lees 'n vorige artikel hier: Gourikwa wil groter gebied bewaar
'Ons bring jou die nuutste Gouritsmond, Hessequa nuus'