STILBAAI NUUS - Die Stilbaai Coastal Cleanup-groep onder leiding van Clifton Donald het Vrydag 21 Julie die Goukourivieroewer getakel.
Vrywilligers van die groep, asook van die Stilbaai-roeiers, het by die hawehoof bymekaar gekom waar Clifton vir hulle geel sakke en knypers gegee het.
Hulle het toe so verdeel dat sommige die rivieroewer na Lapskuit toe aangedurf het. Ander het van die hawehoof af in die brug se rigting gewerk. Ander vrywilligers het om en onder die brug en die rivieroewer aan die oostekant aangepak.
Dit was laagwater en dit is baie duidelik dat hope gemors in die rivier beland, of meestal in die rivier gegooi word. Dit lê dan tussen die hoogwater en laagwatermerk. Van die mense was op 'n stadium enkeldiep in die modder en by plekke was die reuk ondraaglik.
Katja Nothnagel se tekkies na die oefening
'n Deel van die vrywilligers by die gemors wat hulle versamel het.
Dit was egter die moeite werd en in die twee ure wat hulle gewoel het, het die 18 vrywilligers meer as 40 sakke vullis, asook etlike motorbande uitgesnuffel. Selfs 'n padteken en 'n eiendomsagentskap se bord is gevind. Dit is ontstellend hoeveel bierbottels tussen die riete voor die twee bankies links van die hawehoof uitgehaal is.
Nadat Clifton die Hessequa-munisipaliteit gekontak het, het hulle onmiddellik die vuilgoed kom verwyder.
Die vraag is: "Waarnatoe is die mensdom op pad?"
As jy mense met geel sakke sien loop, veral langs Hoofweg-Wes, Hoofweg-Oos, op die rivieroewers en by die strand is dit Stilbaaiers wat vrywillig hulle tyd opoffer, al is dit elke maand 'n uur of twee, om Stilbaai skoon te hou.
Raak betrokke en kontak vir Clifton by 082 457 1135. Elke uur wat jy gee, maak 'n reuseverskil.
Annabelle Nothnagel en haar dogter Katja by die pier.
Ronnie Wobben het drie sakke met gemors, selfs klere onder 'n bos by die brug bymekaargemaak.
Die gemors wat Ronnie Wobben onder die bos in die agtergrond uitgehaal het. Die brug is regs.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’