STILBAAI NUUS - Besoekers en toeriste van ander dorpe en provinsies het blykbaar hul eie drank saamgebring vir die tydperk wat hulle in Stilbaai vakansie hou, want drankverkope het glo drasties afgeneem in vergelyking met verlede jaar, selfs met die Covid-19-inperkings op drankverkope.
Dit is die mening van Johannie Vermeulen, mede-eienaar van Die Blou Seekat in Hoofweg-Oos en Stilbaai Kelders aan die westekant op Stilbaai.
“Vakansiegangers was waarskynlik bang dat drankverkope gesluit sou word tydens die feesseisoen en daarom het hulle seker hul drank saamgebring,” het sy gesê.
Peet van Staden, eienaar van Spar en Tops op Stilbaai, sê die seisoen het beslis later begin as in die verlede en verkope in albei die drankwinkel en Spar het net voor Kersfees opgetel. “Ons syfers vergelyk baie goed met vorige jare en ons is amper op dieselfde syfer as 2019,” het hy gesê.
Hy voel egter ook dat mense bekommerd was oor wat die regering met drankverkope in die feestyd gaan doen en dat sommiges moontlik saamgebring het. “Covid het wel veroorsaak dat mense minder geld het om te bestee en dat minder of geen bonusse aan werkers betaal is nie. Dit beïnvloed baie moontlik die kooppatrone. Ek is egter tevrede en ons doen beter as wat ons verwag het.”
JC Janse van Rensburg, bestuurder van OK Liquor in Stilbaai vergelyk hulle syfers egter goed met 2019 se verkope en hulle is dus nie bekommerd nie.
Die feit dat die regering nog nie duidelike riglyne neergelê het rakende verdere inperkings nie, maak dit nog moeiliker, maar dalk sal daar meer duidelikheid wees voor die tradisionele tweede golf vakansiegangers na Kersfees Stilbaai toe kom.
Suid-Kaap Forum het 'n paar vakansiegangers hieroor gepols.
Menere Krause en Klonus van die Kaap het gesê dat hulle wel drank saamgebring het, maar hulle ondersteun ook plaaslik en vul aan soos hulle nodig het.
'n Persoon wat verkies het om anoniem te bly, het gesê dat die eintlike rede is dat mense eenvoudig nie geld het om rond te strooi nie en hulle spandeer minder. Hy voel ook dat hier minder mense is as in die verlede.
Die tempo het egter verseker opgetel en teen Maandag, 27 Desember het die karavane weer ingestroom en kan dit die hupstoot wees waarvoor baie besighede wag.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'