HEIDELBERG NUUS - Louise en Adam Galant van Johansenstraat het Woensdagmiddag 16 Mei al hul besittings in 'n oogknip verloor toe hulle Wendy-huis tot op die grond afgebrand het.
Die egpaar en hul twee kinders, Cameron (20) en Bronwin (13) het by haar ouer suster, Gwen Pietersen in hul viervertrekhuisie in die agterplaas gebly.
Die brand het omstreeks 13:10 ontstaan kort nadat Cameron, wat werkloos is, blykbaar na 'n huiswinkel gegaan het. Hy was glo nog daar toe iemand na hom roep en skree dat hul huis brand. "Toe ek by die huis kom was daar reeds vlamme by die kragboks. Binne sekondes was die hele huis onder vlamme."
Van die bure het gehelp om Pietersen se huis te ontruim ingeval die brand daarheen versprei. Al die ruite aan die agterkant is deur die hitte beskadig. Die munisipale brandweer, asook ambulans- en polisielede het probeer red wat hulle kon, maar dit was tevergeefs.
Louise, wat by die werk was, het snikkend vertel dat sy net vroeër die oggend aan die families van Riversdal gedink het wat onlangs alles tydens 'n brand verloor het. "Min het ek geweet dat ek ook dieselfde sou oorkom."
Volgens haar is hul sit- en slaapkamerstelle nog nuut, aangesien hulle dit slegs 'n paar weke gelede gekoop het. Hul voertuig wat onder die afdak gestaan het, kon betyds uitgestoot word. Buiten haar identiteitsdokument en Sassa-kaart wat in haar handsak was, is al die ander dokumente van haar man en kinders verbrand.
In ligte laaie.
"As dit nie vir die hulp van ons bure en omstanders was nie, kon die skade soveel groter gewees het. Ons is baie dank aan hulle verskuldig," het Galant gesê.
'n Dringende beroep word gedoen vir enige hulp om die familie by te staan. Skakel Louise Galant by 073 667 6716.
Die Pietersens se meubels is as voorsorgmaatreël uitgedra, ingeval die brand daarheen versprei.
Dit is al wat van die Wendy-huis en sy inhoud oorgebly het. Foto's: Clive Pretorius, korrespondent
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'