HESSEQUA NUUS - Deona Aucamp, wat sedert Julie 2019 by Suid-Kaap Forum as joernalis diens gedoen het, sal voortaan, soos in die verlede slegs vryskutwerk vir die koerant doen.
Volgens Aucamp noodsaak ander verpligtinge haar tot dié besluit, maar sy sal dus steeds die koerant as korrespondent verteenwoordig.
Christo Vermaak, 'n senior joernalis by Group Editors het op 22 Augustus by die Forum-span aangesluit. Hy het sy joernalistieke loopbaan by Group Editors gedurende April 2003 begin.
Vermaak het 14 jaar in die polisie gedien. Tydens sy diensjare was Vermaak 'n opleidingsbeampte in die ondersoek en fotografie van misdaadtonele. Hy was ook deel van 'n groep van 10 uitgesoekte misdaadtoneeldeskundiges wat landswyd opspraakwekkende misdrywe ondersoek het.
Hy het fotografie, asook deur die TSA studeer. As fotograaf het hy verskeie toekennings in sport-, misdaad- en portretfotografie ingepalm. Sy toekennings sluit in die Caxton-koerantgroep se nuusfotograaf van die jaar. Hy is ook as naaswenner in 'n internasionale fotografiekompetisie aangewys.
Joernalistiekgewys was hy naaswenner in die Sanlam nasionale koerantkompetisie en het verskeie top 10 plekke in fotografie en skryfwerk behaal.
Hy is sewe keer as die Eden-sportjoernalis van die jaar en drie keer as die Wes-Kaapse sportjoernalis van die jaar aangewys.
In diens van Group Editors, het Vermaak verskeie senior posisies beklee by koerante in George, Knysna, Mosselbaai, Oudtshoorn en ook Riversdal. Hierdie posisies sluit in redakteur, nuusredakteur en gespesialiseerde joernalistiek in politiek, ondersoekende joernalistiek en sport. Hy is ook 'n bekwame misdaadverslaggewer.
Vermaak sê hy is baie opgewonde om die Hessequa-gemeenskap as senior joernalis te dien.
"Ek wil myself hier vestig en die vertroue van elke inwoner wen."
Hy nooi almal om hom met nuuswaardighede te skakel (082 788 4933) of stuur gerus e-pos na christo@groupeditors.co.za
Christo Vermaak
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'