Update
HEIDELBERG NUUS - Kairos Senior Sekondêr het Dinsdag 18 Oktober hul jaarlikse erkenningsaand in hul skoolsaal gehou.
Musiek en sangitems is deur 'n onderwyser, Rauel Moolman en Denise Marais, 'n oudleerder verskaf. Opvoeders Neil Hartnick en Helené Mostert was die programaanbieders.
Vivian Prins, wat onlangs as hoof afgetree het, was onder die gaste.
Hy het gesê dat hy dit as 'n groot voorreg en eer beskou dat hy as spreker uitgenooi is, omdat hy dit nog moeilik vind om die naelstring met die skool te knip.
Volgens hom maak suksesvolle mense van alle geleenthede gebruik wat beskikbaar is.
"Moenie wag vir die skip om na jou toe te kom nie, want dan gaan jy lank wag. Swem liewer self uit na die skip," het hy gesê. Hy het die leerders ook aangemoedig om nie moed te verloor nie. "Work smarter, not harder," het hy afgesluit.
Tydens die geleentheid is Prins, Clara Conradie (onderhoof), Trevor February (waarnemende hoof), Antoinette Windvogel (sekretaris), Vanessa Francis, Hartnick en Moolman ook vir hul lang diensjare vereer.
Berthal September en Thozama Sithukuteze is vanjaar se sportman en sportvrou. Sonel Kouter is as gr. 12 se duxleerder aangewys, met Alicia Kleinhans tweede en Angelique Garlick derde.
Kairos vereer sy jare lange en getroue diensknegte. Van links: Vivian Prins, voormalige hoof, Clara Conradie, onderhoof, Trevor February, waarnemende hoof, Antoinette Windvogel, sekretaresse, Vanessa Francis en Raoul Moolman staan hier trots met hul sertifikate van waardering vir hul jare lange getroue diens aan die skool.
Leerders, personeel en ouers wat deel uitgemaak het van die aand se verrigtinge.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'