HEIDELBERG NUUS - Die plaaslike krieketklub, Heidelberg United, se jaarlikse erkenningsaand en afskeid het onlangs in die Duivenhoks-gemeenskapsaal plaasgevind.
Die verrigtinge is deur Clifford September met gebed geopen, Heinrich Hartnick (sekretaris) het as seremoniemeester opgetree. Clive Pretorius het sy voorsittersrede aan die sowat 35 aanwesiges voorgehou. Michael Williams (addisionele lid en statistikus) het 'n kort oorsig oor die afgelope seisoen gelewer en die verskeie wenners aangekondig. Pretorius het die oorhandiging behartig.
Vanjaar was daar slegs vyf kategorieë waarin spelers beloon is.
Elrick Pretorius is as speler van die jaar aangewys en hy is met die Clive Pretorius-trofee beloon. Corbin Swartbooi is as beste kolwer aangewys en het die Eastriyond Esau-trofee ontvang. Die Ockert Verwey-trofee is aan Jaylin Opperman oorhandig vir beste bouler. Henrico Esau is as mees toegewyde speler met die Ben Januarie-trofee beloon, terwyl Berthal September as die beste opkomende speler die Theo Adams-trofee ontvang het.
Die ondervoorsitter, Leon Hartnick, het die spelers vir hul ondersteuning gedurende die seisoen bedank en die hoop uitgespreek dat dit die klub verder sal laat groei.
Die bestuur is tydens die klub se algemene jaarvergadering verkies. Hulle is Danielo du Preez (klubkaptein), Solly Robertson (reklamebeampte), Garth Pieterse (hulpkassier), Michael Williams (addisionele lid), Clive Pretorius (voorsitter), Heinrich Hartnick (sekretaris), Garth Esau (kassier) en Leon Hartnick (ondervoorsitter).
Die spelers is vir hul uitsonderlike prestasie gedurende die 2018/19 seisoen beloon. Van links: Corbin Swartbooi, Elrick Pretorius, Henrico Esau, Berthal September en Jaylin Opperman.Foto: Clive Pretorius, korrespondent
Die groep lede is tydens Heidelberg United-krieketklub se algemene jaarvergadering op die bestuur verkies. Agter, van links: Danielo du Preez (klubkaptein), Solly Robertson (reklamebeampte) en Garth Pieterse (hulpkassier). Voor: Michael Williams (addisionele lid), Clive Pretorius (voorsitter), Heinrich Hartnick (sekretaris) en Garth Esau (kassier). Leon Hartnick (ondervoorsitter) was afwesig tydens die neem van die foto.
Lees 'n vorige artikel hier: United kry erkenning
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'