WES-KAAP NUUS - Inwoners word gemaan om hulle vir ’n moontlik uitdagende veldbrandseisoen gereed te maak, met die ontwikkelende El Niño-weerspatroon wat na verwagting warmer en droër toestande en ’n groter brandgevaar in die provinsie kan meebring.
Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het gewaarsku dat ondergemiddelde reënval gedurende die komende somerseisoen weens ’n verwagte sterk El Niño kan voorkom.
Hoewel El Niño nie noodwendig beteken dat elke deel van die provinsie droogtetoestande sal ervaar nie, kan minder reën, hoër temperature en droë plantegroei toestande skep waarin veldbrande makliker ontstaan en vinniger versprei.
Wind bly ook ’n belangrike faktor. Hoewel buitengewone sterk wind nie noodwendig dié somer verwag word nie, kan die windrigting wisselvallig wees.
Dit kan toestande vir brandbestryders moeiliker en gevaarliker maak.
Volgens CapeNature is daar tussen April 2025 en Maart vanjaar op 107 veldbrande in die Wes-Kaap gereageer.
Altesaam 215 937 ha is afgebrand, waarvan 78 505 ha op natuurreservate onder CapeNature se bestuur was.
Anton Bredell, Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, sê El Niño veroorsaak nie op sy eie brande nie, maar kan toestande skep waarin brande meer gereeld voorkom, intenser brand en moeiliker beheer word.
“Wanneer plantegroei uitdroog, kan selfs ’n klein ontstekingsbron vinnig in ’n ernstige veldbrand ontaard, veral wanneer dit met warm, droë en winderige toestande gepaardgaan,” het hy gesê.
Hoewel vuur noodsaaklik is vir die Wes-Kaap se unieke fynbos se natuurlike voortbestaan, kan onbeheerde veldbrande biodiversiteit, huise, infrastruktuur, landbougrond en menselewens bedreig.
Menslike aktiwiteite bly ’n groot oorsaak van veldbrande, en CapeNature doen ’n beroep op die publiek om uiters versigtig met vuur om te gaan.
Coral Birss, CapeNature se uitvoerende direkteur van biodiversiteitsvermoëns, sê 63% van die brande gedurende die vorige brandseisoen is onder beheer gebring voordat dit groter as 100 ha geword het.
Volgens haar begin voorbereidings vir ’n nuwe brandseisoen reeds voordat die vorige een verby is. Toerusting word nagegaan en waar nodig vervang, terwyl verskeie rolspelers saamwerk om gereedheid regoor die provinsie te verseker.
Die publiek word versoek om nooit vuur sonder toesig te laat nie en seker te maak dat braaivure, landboubrande en ander gemagtigde vure behoorlik geblus word.
Vure mag ook nie langs paaie, by uitkykpunte in bergpasse of ander openbare padgebiede gemaak word nie.
Enigiemand wat rook of ’n veldbrand opmerk, moet dit onmiddellik by 112 vanaf ’n selfoon of 10177 vanaf ’n landlyn aanmeld.
Vroeë aanmelding kan die brandbestryders help om ’n brand onder beheer te kry voordat dit momentum opbou.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’