HESSEQUA NUUS - Brandbestryders se doelgerigte optrede in baie moeilike weersomstandighede het groot skade tydens drie gelyktydige veldbrande verhoed.
Die brande het op Donderdag, 9 Julie by Plattekloof in die Korenteriviergebied noord-wes van Riversdal, langs die Hectorskraalpad en by Skerpkoppies naby Stilbaai gewoed.
Volgens Marlene Nqumse, kommunikasiebeampte Garden Route-distriksmunisipaliteit (GRDM) was die oorsaak in al die gevalle beheerde brande wat as gevolg van die stormsterk wind wat die streek geteister het, handuit geruk het. "Al die brande is op grond van geldige brandpermitte uitgereik deur Hessequa-munisipaliteit begin, maar die wind was net te sterk," sê Nqumse.
Sy sê geen strukture is vernietig nie, hoewel 'n hele paar deur die vlamme bedreig was. Brandbestryders van Working on Fire, die South Cape Fire Protection Agency, Hessequa-munisipaliteit en plaaslike grondeienaars het saam met GRDM se spanne tot Vrydag, 10 Julie om 17:00 gewerk voor die gebied veilig verklaar kon word. Tussen 80 en 90ha het in die slag gebly.
Nqumse sê weersomstandighede is uiters belangrik wanneer brande gemaak word. "As die Suid-Afrikaanse Weerdiens 'n waarskuwing vir gevaarlike toestande uitreik, móét daaraan gehoor gegee word. 'n Permit vir 'n beheerde brand beteken nie dit gaan outomaties veilig wees om daarmee voort te gaan nie."
Vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'