RIVERSDAL NUUS - Suid-Kaap Forum het Dinsdag 3 Maart 'n treffende voorbeeld van effektiewe gemeenskapspolisiëring gesien.
In 'n koelteplek langs een van die kerke in die dorp het drie seuntjies van so 10 of 12 jaar oud giggelend aangestap kom. Hulle kom sit ook in die koelte.
Die eerste gedagte is, "Die stouterds moet in die skool wees!" Hulle is nie skoon aangetrek nie en lyk of hulle dae laas gewas het, regte straatkindertjies. Hulle het net gaan sit, toe staan 'n polisieman voor hulle. Lamgeskrik bly hulle sit. Name en adresse word neergeskryf. Daar word sag en dringend met hulle gepraat.
Toe stap 'n jong man verby. Hy is van 'n kantoortjie wat gemeenskapswerk doen. Hy vra die name moet asseblief aan sy kantoor beskikbaar gemaak word sodat hulle dit met die families kan opvolg. So ooreengekom, stap die polisieman en jong man verder. Die drietjies stap ook weg, bedremmeld, al met die kerkmuurtjie langs.
Die waarde van goeie samewerking tussen gemeenskap en polisie kan nie méér beklemtoon word nie.
Waar samewerking ontbreek, waar wedersydse vertroue en respek deur dade en woorde oor jare heeltemal vernietig is, broei net wanorde en onheil uit.
Die koerant het verlede week oor die totale verval van samewerking tussen polisie en gemeenskap in Heidelberg en wat die gevolge daarvan is berig. Waar 'n dorp se gemeenskapspolisiëringsforum nie behoorlik funksioneer nie, moet dringend 'n nuwe struktuur met ander leiers gestig word om verhoudinge weer in belang van 'n gesonde gemeenskapslewe op te bou.
Van sers. George Bush van Riversdal-polisie en Joey Hefke van 'n maatskaplike kantoor op die dorp en drie verwaarloosde straatlopertjies kan daar geleer word hoe om saam te werk om probleme in ons dorp en in die gemeenskap aan te pak.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'