HESSEQUA NUUS - Die Hessequa-munisipaliteit sê Rhuschan Manho het wel die nodige kwalifikasies vir sy pos as direkteur van tegniese dienste en dat alle vereiste munisipale prosedures nagekom is met sy aanstelling vroeg in 2020.
Dit volg na 'n inwoner van Albertinia, Fred Carelse, in 'n e-pos aan Suid-Kaap Forum sy ontevredenheid uitgespreek het omdat Hessequa-munisipaliteit volgens hom belastingbetalers se geld onnodig aangewend het om die pos te adverteer, omdat dit toe intern gevul is.
Carelse het die saak eers twee weke gelede met die Forum opgeneem - 19 maande na Manho se aanstelling.
Volgens Carelse was die drie advertensies destyds "vrugtelose" en "verkwiste besteding", omdat die betrokke advertensies spesifiek vir 'n sekere "kennis" binne die betrokke departement geoogmerk was, wat volgens hom nie noodwendig aan die minimum wetlike kwalifikasie vereistes voldoen het nie. "Dit het beteken dat hierdie ongekwalifiseerde 'personeellid' binne die pos op kursusse gestuur word, net soos die ander personeellede wat jare ervaring in bestuur, onderhandelinge en strategie opgedoen het."
Carelse beweer voorts dat daar nie deeglik verwys is na sekere regulasies vir voldoening aan minimum bevoegdheidsvlakke, asook registrasie as 'n professionele ingenieur nie.
'n Aansoek wat op 11 November 2019 deur ene Justin Lesch ingedien is, het volgens Carelse nie eens die kortlys gehaal nie. Lesch was toe senior bestuurder by die elektriese en tegniese afdeling by Prins Albert-munisipaliteit.
"Mnr Rhuschan (Werner) Manho was 'n personeellid van Hessequa-munisipaliteit (bestuurder: siviele infrastruktuur, tegniese dienste) sonder die vereiste kwalifikasie en 'geen tekenregte' van sekere dokumentasie," sê Carelse. "Manho is aangestel as direkteur van tegniese dienste. Mnr Justin Lesch is intussen aangestel as direkteur van tegniese dienste by Oudtshoorn-munisipaliteit."
Hy het bygevoeg dat die pos vir 'n totale pakket van R857 571 - R1 102 590 per jaar geadverteer is - 'n prestasiebonus uitgesluit - wat 'n "permanente senior bestuur" - aanstelling is.
Carelse sê 'n forensiese ondersoek moet gedoen word.
'Aanstelling wel prosedureel'
Hessequa-munisipaliteit het as volg op Suid-Kaap Forum se navraag reageer: "Mnr Manho is deur die raad aangestel op 1 Maart 2020. Mnr Manho voldoen aan die minimum vereistes soos geadverteer en beskik oor 'n B Tech-graad, het die sertifikaat in munisipale finansiële bestuur voltooi, het ses jaar ervaring gehad ten tye van die aanstelling en 'n bevoegdheidsbeoordeling voltooi.
"Mnr Manho is 'n geregistreerde kandidaat, ingenieurstegnoloog by die Engineering Council of South Africa (ECSA). As deel van die voortgesette ontwikkeling en belegging in die toekoms moet hy binne drie jaar na aanstelling sy professionele ingenieur (Pr Eng) se akkreditasie van ECSA verkry.
"Die advertensie-, keurings- en aanstellingsproses vir direkteure is vervat in die regulasies soos in die Wet op Munisipale Stelsels. Manho se aanstelling was prosedureel."
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'