Dr. Awie de Villiers en sy personeel van George het die sterilisasie kliniek behartig. Tinka Small, saam met vrywilligers van Albertinia het die honde en katte bymekaar gemaak om te steriliseer. Dit is 'n groot taak om net almal se dokumentasie bymekaar te kry om die diere te steriliseer.
Die diere-eienaar moet hul identiteitsdokument, munisipale rekening en bewys van inkomste voorsien om die voordeel van hierdie klinieke te geniet.
Met 'n goed georganiseerde dag het alles seepglad verloop en kon die dokter en sy vennoot gou 35 honde en 3 katte steriliseer. Die diere is almal ook ingeënt.
Na afloop van die kliniek was daar een baie brawe kat wat dit reggekry het om uit sy hok te ontsnap, maar op wankelrige bene en met baie gewillige hande is hy gou weer gevang en in sy hok gesit en veilig aan sy eienaar oorhandig.
Volgens Sandra Lotz, moes daar ongelukkig 'n baie siek hond 'n genadedood toegedien word, asook 'n werpsel ongewenste klein hondjies.
"Die ongelukkige storie is dat honde-eienaars dink hul kan 'n klein hondjie hou en die ouer hond dan laat uitsit. Dit werk ongelukkig nie so nie. As jy besluit om die hond op te gee, word dit nie vervang met 'n ander hond nie".
"Die gemeenskap het sonder om te skroom hul donasies voorsien om ook hul bydrae aan hul hond se versorging te toon. Dit is 'n voorreg om 'n dier aan te hou en nie 'n reg nie, dus moet die eienaar bewus wees dat elke hond 'n lisensie moet hê, asook die nodige ontwurming en voorkomende middels moet gebruik teen vlooie en bosluise.
"Troeteldiere moet elke dag 'n gebalanseerde ete asook skoon water kry. Veral honde kan nie aan kort drade vasgemaak word nie, omdat die eienaar nie wil hê die hond moet in die straat loop nie, maar ten minste op 'n loopdraad van 7 meter lank.
"'n Halsband kan om die hond se nek gesit word, maar draad of kettings moenie gebruik word nie. Dit kan baie lelike wonde veroorsaak", het Sandra gesê en bygevoeg: "Die honde wat CARS gesteriliseer het was in redelike toestand en dit was goed om te sien dat die gemeenskap wil omsien na hul diere". Vir meer besonderhede kan Sandra Lotz gekontak word by 082 9621 831.

Tydens die sterilisasie kliniek in Albertinia is 35 honde en 3 katte gesteriliseer. Die diere is ook almal ingeënt.Baie vrywilligers het gehelp om die sterilisasie kliniek in Albertinia seepglad te laat verloop.