Update
HESSEQUA NUUS - Inwoners van die Hessequa-streek bevraagteken die plaaslike brandweer se vermoë om betyds te reageer om brandskade te beperk en lewensverlies te verhinder.
Dié bekommernis spruit uit drie voorvalle verlede maand waarin twee informele strukture op Riversdal heeltemal in vlamme in puin gelê is en twee kinders in 'n brand op Vermaaklikheid omgekom het.
Vrae het ook oor die oorsaak van die brande ontstaan: spontaan of brandstigting?
Tydens die brand in Vetterivier-rylaan op 20 Maart was die brandweer in Garcia-pas ontplooi. Met hul aankoms in Riverville was die informele struktuur egter reeds afgebrand.
Op 22 Maart was die bewoners van 'n informele struktuur in Vygielaan woedend toe die brandweer ook nie daar betyds opgedaag het om brand te beheer nie en hulle het 'n brandweerman met 'n baksteen gegooi.
Die vorige week, op 17 Maart was die brandweer en ander nooddienste blykbaar redelik gou op die toneel, maar dit was steeds te laat om die boetie en sussie in 'n brand op die boonste verdieping van 'n huis te red.
Die Hessequa-munisipaliteit se mediawoordvoerder, Didi Budricks, hou egter voet by stuk dat die brandweerdiens oor die nodige ondersteuningshulpbronne beskik.
Sy verduidelik die prosedure: "Brandweermanne se primêre taak tydens enige brandvoorval is om lewensverlies te voorkom, sowel as skade aan strukture en roerende eiendom te probeer verhoed. Tydens brandbestryding word alle voorsorg getref om die veiligheid van geaffekteerdes en omstanders te verseker."
Sy sê voorts die brandweerdiens word op 'n skofstelsel bedryf en indien aanvullende hulpbronne nodig is, word brandweermanne wat nie aan diens is nie se beskikbaarheid bepaal, of brandweerpersoneel van buitedorpe in die Hessequa-streek word ingeroep. Indien nóg hulp benodig word, word hulpverlenging van buurmunisipaliteite, insluitende die Tuinroete-distriksmunisipaliteit, aangevra.
Volgens Riversdal-polisie se kommunikasiebeampte, sers Christiaan Jansen, is daar geen ooreenkomste tussen die onderskeie brandvoorvalle nie. Hy het bevestig dat die brand in Vermaaklikheid waarin twee kinders omgekom het, deur 'n foutiewe kragverlenging veroorsaak is.
Volgens die bewoner van die informele struktuur in Vetteriver-rylaan kon die brand nie deur 'n kortsluiting veroorsaak wees nie, aangesien daar geen elektrisiteit in die struktuur was nie.
'n Saakdossier is nie geopen nie en die oorsaak van die brand is onbekend. Daar bestaan geen bewyse dat roofmisdaad of brandstigting met enige van die voorvalle verbind kan word nie.
Vorige artikel: Inwoners betwyfel brandweer se paraatheid
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'