ALBERTINIA NUUS - Twee kinders is dood in die soveelste ongeluk op die N2 tussen Riversdal en Albertinia.
Gilbert Elbrink was Sondag 29 September omstreeks 07:00 van Riversdal op pad na Albertinia met vier kinders in 'n Mazda toe 'n band na bewering gebars en hy klaarblyklik beheer oor die voertuig verloor het.
"Gilbert, my neef, het my kinders Lee-Jane November (18) en Joshua Vaaltyn (8) huis toe gebring na hulle die vakansie in Riversdal gekuier het," het 'n hartseer Yolanda Vaaltyn Maandag gesê. "Die ongeluk het sowat vyf kilometer van die huis af gebeur. My dogter en Gilbert se seun Monté (8) is in die ongeluk dood. Joshua en Gilbert se dogter Gillian (11) is in die hospitaal behandel, maar hulle is oukei."
Die ernstig beseerde Elbrink is steeds in Riversdal-hospitaal. "Sy bene, rug en kop het baie seergekry. Hy is nog baie deurmekaar en weet nog nie sy seun is dood nie," het sy gesê.
Paul Beier, die bestuurder van die Ford Ranger waarteen die Mazda gebots het, asook sy seun Brandon en assistent Johnny Kausiwa is ongedeerd. "Die groen voertuig het oor die pad geslinger - ons het padgegee, maar dit het ons Ford Ranger se regtervoorkant getref," het Beier gesê.
Volgens Beier het hulle Sondagoggend omstreeks 05:30 uit George vertrek waar die 17-jarige merrie Ally, wat in die sleepwa was, oor die naweek by die George-ryklub aan 'n skou deelgeneem het. Die sleepwa het op sy wiele gebly, maar die botsing het die merrie teen die binnekant van die sleepwa geslinger.
"Sy was baie getraumatiseer, maar het nie sigbare beserings opgedoen nie," het Shirley Beier, die perd se eienaar gesê. Sy en nog familielede het sowat 20 minute later in 'n VW Kombi op die toneel aangekom. Die merrie is deur 'n veearts van Kaapstad in sy sleepwa gelaai en is vooruit huis toe geneem. Brandon het saamgery.
Lee-Jane, 'n gr. 10-leerder aan die Hoërskool Albertinia, word Saterdag om 09:00 vanuit hul huis in Trevor Waterboerstraat 112 en om 10:00 uit die AGS kerk in Kwartelstraat op haar tuisdorp begrawe. 'n Troosdiens is Woensdagaand in die kerk gehou. "Ek is nie seker wat die reëlings vir Monté se begrafnis is nie. Sy ma Maryke (36) is op 14 Maart vanjaar skielik oorlede." 'n Familielid het by navraag gesê sy begrafnis sal eers later plaasvind.
Volgens kapt. Malcolm Pojie, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, word 'n klag van strafbare manslag ondersoek.
- In 'n onverwante voorval het 'n agtjarige seun gesterf toe hy na bewering oor die N2 gehardloop het en deur 'n tenkwa getref is. Volgens sers. Ebrahim Kapp, Kwanonqaba-polisiewoordvoerder, het die voorval omstreeks 10:00 Sondag sowat 20 km buite Mosselbaai in die rigting van Albertinia plaasgevind. "Die seun het blykbaar na een van sy ouers aan die oorkant van die pad gehardloop."
Paul Beier, sy vrou Shirley en assistent Johnny Kausiwa. Beier en Kausiwa was in die bakkie onderweg toe die ongeluk gebeur het. Foto's: Tisha Steyn
Lees vorige artikels:
- N2 closed between Albertinia and Riversdale
- Ongeluk op N2 Albertinia
- Opvolg: Begrafnisreëlings vir jong ongelukslagoffers bekend
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Hessequa nuus'