Update
HEIDELBERG NUUS - Personeel van Grootvadersbosch-natuurreservaat het vir die vyfde agtereenvolgende jaar hul harte en beursies oopgemaak.
Dié werkers, onder leiding van hul voormalige bestuurder Ian Allen en sy vrou Rose, het skoene aan 40 leerders van De Waalville Primêre skool geskenk.
Verlede jaar het hulle 36 paar skoene geskenk en soos verlede jaar het elkeen buiten 'n paar skoene ook skoenpolitoer en 'n -borsel, 'n hemp, kouse en skryfbehoeftes ontvang.
Rose het na aanleiding van die liedjie Everyday Angels na die werkers as 'alledaagse engele' verwys. "Mense soos hulle en hul kollegas wat nie vandag hier is nie, is gewone mense wat nie huiwer om iemand in nood te help nie."
Sy het vir die leerders en hul ouers gesê: "Die werkers het dit self nie breed nie, maar het ten spyte van hul eie uitdagings bygedra tot die skenking."
Selfs Gleazon Pietersen, wie se kontrak nog nie hernu was nie, het bygedra. "Gleazon het my genader en gesê hy wil weer deel wees. Dis nou wat mens onselfsugtig noem."
Ian het sy kollegas bedank dat hulle omgee vir hul medemens. "Baie dankie dat julle vir ons die kans gegun het om te kan gee," het hy vir Shalmay Meyers, departementshoof en Pietie Conradie, viseprinsipaal gesê.
Die personeellede het die egpaar en twee werkers wat hulle vergesel het bedank vir hul onbaatsugtigheid en toegewydheid om selfs in moeilike tye aan ander te dink. Magdalena Swart en haar dogter Chantelle het die skenkers namens die ouers en leerders bedank.
Vorige artikel: Bosbouers skenk skoene
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'