STILBAAI NUUS - Stilbaai Bewaringstrust se tuin-by-die-damprojek om die terrein rondom die rioolwerke te verfraai, is in volle swang.
Die voorsitter, dr Deon Begemann sê die besproeiingstelsel rondom die dam is geïnstalleer en 11 bome is reeds geplant en van druppers, bokskerms en kunsmis voorsien.
Hy sê hulle kort nog 19 groterige inheemse bome wat vinnig sal groei. "Ons versoek belangstellendes om bome te skenk wat ons daar kan plant." Hulle het genoeg melkhoutbome en vra ander plante wat eie aan die gebied is.
Enigiemand wat kan help kan Begemann per e-pos by begemannd@gmail.com kontak. Hy kan ook per WhatsApp of SMS (082 440 7910) bereik word. "Ek sal 'n afspraak maak en die plant voor die huis kom oplaai. Die boom moet verkieslik deur een persoon hanteer kan word, aangesien groepsaksies weens Covid-19 vermy word."
'n Ander moontlikheid, veral vir belangstellendes wat nie op Stilbaai woon nie, is volgens Begemann om 'n boom by 'n kwekery op Stilbaai te koop, wat hy daar sal gaan oplaai.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'