RIVERSDAL NUUS - ‘n Heftige debat het tussen grondeienaars en bewaringbewustes ontstaan ná Suid-Kaap Forum se voorbladberig “Vier plase dalk gemyn” in die uitgawe van 28 April 2024.
Veral die illustrasie-foto - wat wys hoe die landskap verrinneweer kan word om nóg bentoniet en zeolietklei myn - het mense erg ontstel.
Dit is nie die boere wat vir prospektering- en/of myn-ontginningregte aansoek gedoen het nie, maar wel die projek-aansoeker Imerys Refractory Minerals SA (Cape Bentonite Mines), ‘n maatskappy wat hierdie minerale al jare lank verantwoordelik en aanspreeklik op verskeie plase in die streek myn.
Omgewingsbewustes beskuldig nou egter die eienaars van die plase Wegwyzersrivier, Zeekoekruis, Kragga en Weideland van verrinnewering ter wille van rykdom en teiken hulle as skurke.
Dit is onwaar.
Een van die boere wie se plaas geoormerk is vir ontginning, het Suid-Kaap Forum se kantoor besoek om hul kant van die saak te stel en ons het gaan ondersoek instel.
‘n Prospektering-aansoek op ‘n eiendom beteken nie noodwendige mynreggoedkeuring nie. ‘n Omvattende impakstudieproses en openbare vertoë bepaal die uitkoms daarvan. Dan berus die finale besluit by die departement van minerale hulpbronne en energie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’