RIVERSDAL NUUS - Met bek-en-klouseer (BKS) wat reeds in dele van die Tuinroete bevestig is, het Riversdal se landbougemeen-skap vinnig gemobiliseer om die verspreiding van dié hoogs aansteeklike virussiekte te keer.
Drie sanitasiepunte is nou strategies in en om die dorp ingerig, terwyl streng biosekuriteitsmaatreëls toegepas word om die plaaslike veebedryf te beskerm.
BKS hou 'n ernstige ekonomiese risiko vir die streek in.
Die siekte raak beeste, skape, bokke, varke en ander diere met gesplete hoewe, en versprei maklik deur direkte kontak tussen diere, besmette toerusting, voertuie en selfs deur die lug.
Die virus kom in alle liggaamsvloeistowwe voor - insluitend speeksel, urine, ontlasting en melk - asook in die asem van besmette diere.
Drie sanitasiepunte in werking
Volgens 'n plaaslike kennisgewing is twee 24-uur-sanitasiepunte vanaf hierdie week by die Vetterivierafdraai en die Steg-brug operasioneel.Enige voertuig wat Riversdal verlaat of dié roetes gebruik, word volgens streng protokol gesaniteer.
'n Derde biosekuriteitstasie is by die skouterrein ingerig. Hier moet alle vee, voer, melktenkwaens, bakkies met sleepwaens, perdewaens en selfs vullisvragmotors wat landelike roetes ry, deurgaan vir ontsmetting.
"Riversdal se fondasie is landbou. As BKS hier uitbreek, sal die gevolge katastrofies wees - nie net vir boere nie, maar vir die hele gemeenskap," is beklemtoon.
Navrae kan aan Jac Saayman by 082 772 7974 gerig word.
Streng vereistes vir vervoer
Die Wes-Kaapse verkeersdienste en veediefstaleenhede monitor tans die vervoer van lewendehawe.
Diere wat vervoer word, moet vergesel wees van Artikel 6- en 8-sertifikate ingevolge die Veediefstalwet (Wet 57 van 1959), asook 'n eienaars- en ontvangerverklaring en 'n geldige gesondheidsverklaring.
Alle beweging van diere in of uit kwaran-tyngebiede moet by die departement van landbou aangemeld word.
Produsente word aangeraai om geen diere vanaf besmette of bewegingsbeheerde gebiede aan te koop of te vervoer nie, om gesondheidsertifikate vir aankope van buite die provinsie te verkry, en om voertuie, klere en toerusting deeglik te ontsmet.
Voer wat saam met diere vervoer word, moet vernietig word.
By veilingfasiliteite moet daar duidelike skeiding wees tussen "vuil" aankomsareas en "skoon" bioseker sones.
Slegs diere wat die skoon sone bereik, mag verkoop word.
Bek-en-klouseer: Twee plase positief in Mosselbaai
Die Multi-agentskap Bevelsentrum van die Tuinroete-distriksmunisipaliteit het op
18 Februarie 'n vyfde opdatering oor bek-en-klouseer uitgereik.
Twee plase in die Mosselbaai-gebied is bevestig as positief, terwyl twee verdere persele - onder meer in George - nog op toetsuitslae wag. Beeste is die enigste vee wat tot dusver as besmet aangemeld is.
Altesaam 6 453 entstofdosisse is reeds toegedien - die hoogste getal in die Wes-Kaap.
Inenting binne 'n 3 km-radius van die indeksplaas is voltooi en spanne werk tans binne 'n 10 km-radius.
Nege voertuigbeheerpunte bly in werking rondom die gekwarantyde gebied.
Een miljoen entstowwe word op 21 Febru-arie in Suid-Afrika verwag, met nog vyf miljoen teen 1 Maart.
Die Wes-Kaapse regering sê verdere opdaterings sal volg soos uitslae bevestig word.
Riversdal-landbouvoorsitter reageer
AJ van Wyk sê die landbougemeenskap van Riversdal staan saam om bek-en-klouseer hok te slaan.
"Ons waardeer elke produsent en inwoner wat streng by biosekuriteit hou.
Deur samewerking, dissipline en waaksaamheid kan ons ons kuddes beskerm en die streek se landbou-ekonomie veilig stel," het hy benadruk.
Van Wyk het bygevoeg dat die vinnige mobilisering en ondersteuning uit die gemeenskap hoop gee.
"Saam kan ons die impak beperk en sterker anderkant uitkom. Riversdal se boere gee nie moed op nie."
Provinsiale opdatering vol
Die premier van die Wes-Kaapse regering, Alan Winde, en die provinsiale minister van landbou, ekonomiese ontwikkeling en toerisme, dr. Ivan Meyer, sal Vrydag 20 Februarie 'n verdere openbare opdatering gee oor die provinsie se gekoördineerde 21-punt-reaksieplan om die uit-breking te beperk.Owerhede doen 'n dringende beroep op produsente en inwoners van Riversdal om streng by biosekuriteitsmaatreëls te hou en enige verdagte gevalle onmiddellik by die naaste staatsveearts aan te meld.
Vinnige optrede en samewerking bly die sleutel om die streek se landbou-ekonomie te beskerm.
Nasionale ramp verklaar
Die uitbreking van bek-en-klouseer is ingevolge die Wet op Ramp-bestuur, Wet 57 van 2002, as 'n nasionale ramp geklassifiseer.Hierdie verklaring stel die regering in staat om gekoördineerde optrede oor alle regeringsfere heen te implementeer om die uitbreking te beperk, vee te beskerm en bestaansmiddele en voedselsekerheid in Suid-Afrika te beveilig.
Die regering is tans besig om voor-komings-, beheer-, versagtings- en herstelmaatreëls landwyd toe te pas.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’