Update Video
VERMAAKLIKHEID NUUS EN VIDEO'S - Boere wat erge skade gely het toe 'n brand in Oktober verlede jaar groot dele van plase verwoes het, het Vrydag skenkings van die Vermaaklikheid Brandfonds ontvang.
Ongeveer 20 boere op plase wat sowat 20 000 ha beslaan, het weiveld, heinings, waterpype en -tenks in die brand verloor.
Die Vermaaklikheid Brandfonds, wat deur die Stilbaai Landelike Subforum inisieer is en deur Johan Smit Prokureurs van Stilbaai administreer word, het skenkings van R26 000 van die Stilbaai-gemeenskap ontvang.
"Die omvang van die skade op die plase is bepaal en deur die Hessequa-munisipaliteit geverifieer," het Alison Bryant, voorsitter van die Stilbaai Landelike Subforum gesê. Sy het skenkings en goedere wat teen kosprys by SSK aangekoop is, by die Apostoliese Geloofsending op Vermaaklikheid aan sommige van die boere uitgedeel.
"Ek het altesaam R700 000 skade gely," het Andries Odendaal gesê. "Ek het 290 hanepoot-wingerdstokke wat vir die eerste keer vol in drag gestaan het, verloor. Omdat al die heinings en die nette wat oor die wingerd gespan was om die voëls uit te hou, in die brand vernietig is, kom vreet wildsbokke soos duikers, bosbokke en steenbokke die nuwe lote af."
Kyk twee video's hieronder:
Volgens Odendaal het die meeste van sy 97 byekorwe waarin sy bye fynbosheuning maak, ook in die slag gebly. Bryant het vir hom vier nuwe byekorwe belowe.
George Read het ook 110 pale, jakkalsdraad en doringdraad, asook al die weiding vir sy inheemse boerbokke, wat bekend staan as veldbokke, verloor.
"Dit was ook hartseer om te sien hoeveel wilde diere soos slange doodgebrand het, en 'n mens weet nie hoeveel skilpaaie in die slag gebly het nie."
"My hele plaas het afgebrand, maar die huis het darem behoue gebly," het Dave Brinkley gesê.
Sien 'n vorige artikel hier: Vermaaklikheid se boere kry brandhulp
'n Watertenk, waterpype, heiningpale en doringdraad is geskenk aan boere van Vermaaklikheid wat groot skade in Oktober 2018 se brande gely het.
Alison Bryant verduidelik vir Andries Odendaal hoe die toewysing van die brandhulp werk.'Ons bring jou die nuutste Suid-Kaap nuus'