STILBAAI NUUS - Leon Kluge, die wêreldbekende ontwerper van die Suid-Afrikaanse uitstalling by die Chelsea-blommeskou in Londen het 220 gaste Dinsdag 17 Junie in vervoering gehad met sy praatjie by die Busy Lizzy huis- en tuinbouklub in Stilbaai.
Hy het met 'n pragtige skyfie-vertoning as agtergrond die hele proses vanaf die voorbereiding tot en met die aftakeling so interessant beskryf dat mens 'n speld kon hoor val.
In haar verwelkoming het Julie van Deventer, voorsitter van die Busy Lizzy huis- en tuinbouklub, Leon beskryf as 'n kunstenaar, botanis, landskapsargitek, skrywer en ontwerper.
Julie het verder gegaan en gesê: "Your words are a symphony of South Africa's fynbos."
Leon is in Nelspruit gebore en het in die Laeveld se botaniese tuin grootgeword.
Sy pa was kurator van die Laeveld Botaniese Tuin in Nelspruit en sy oupa die kurator van die Bettiesbaai Botaniese Tuin. Tuinbou is dus in sy bloed.
Die feit dat Leon kleurblind is het hom nog nooit gepla nie. Hy werk dikwels net met die vorm, tekstuur en beweging van plante om sy skeppings gestalte te gee.
Na 'n afwesigheid van vier jaar het Suid-Afrika verlede jaar weer aan die Chelsea-blommeskou deelgeneem en Leon het met sy skepping 'n goue medalje verower.
Sy filosofie is egter dat jy altyd moet verbeter en dit het hy en sy span hierdie jaar vermag. Nie alleen het hulle die goue medalje op die skou verower nie, maar ook die Lawrence-medalje van egte goud vir die beste uitstalling vir die afgelope 12 maande in al die Royal Horticultural Society skoue in Brittanje.
Leon het vanjaar 25 000 stingels uit Suid-Afrika ingevlieg en vir 'n week lank word daar van 07:00 tot 19:00, die toegelate tyd, aan die uitstalling gebou.
Hy het vanjaar water in sy uitstalling gebruik en dit met rooibostee gedokter vir die regte kleur.
'n Jakkals het dit ontdek en elke aand as almal weg is het hy kom tee drink en net sy spore in die sand gelos.
Leon is na sy praatjie in Stilbaai deur die 220 gaste staande toegejuig en dit was duidelik dat die gehoor groot waardering het vir wat hy vir Suid-Afrika doen.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’