STILBAAI NUUS - Die Stilbaai-bewaringstrust is weer vol planne en nooi inwoners van Stilbaai, Melkhoutfontein en Jongensfontein om deel te word van hul bewaringspogings.
Hoewel nie almal bewus is van die trust se werk nie, speel die organisasie sedert sy stigting in 1985 'n belangrike rol in die bewaring van die dorp en omliggende gebied se erfenis. Die trust beywer hom vir die behoud van historiese geboue, inheemse plantegroei en ander waardevolle elemente wat deel vorm van die streek se unieke karakter.
Volgens die trust is bewaringswerk belangriker as ooit te midde van voortdurende ontwikkeling en modernisering. Deur die jare was daar talle inwoners wat hul tyd en kundigheid beskikbaar gestel het om die omgewing te herstel, te versorg en vir toekomstige geslagte te bewaar.
Verskeie nuwe projekte word tans beplan. Dit sluit die herstel en verf van die Wafra in, wat langs die NSRI staan, asook 'n gasheer- en gasvrouprojek by die Ou Skooltjie by die Stilbaai-oerismeburo.
Die bewaringstrust doen 'n beroep op gemeenskapslede wat belangstel om betrokke te raak by die bewaring van die dorp se geskiedenis en natuurlike omgewing om aan te sluit.
Vir meer inligting kan belangstellendes vir Hentie Schumann by 082 595 8456 kontak vir.