RIVERSDAL NUUS - Daar wag binnekort ‘n groot bederf op die liefhebbers van tienerskuns.
‘n Span kundige beoordelaars het pas die 25 beste werke uit ‘n uiteenlopende inskrywingspoel van nagenoeg 130 werke deur die Hessequa-streek se tieners gekies.
“Die hoofdoel van dié kunskompetisie is om tieners bewus te maak van die omgewing se kulturele en natuurerfenis; veral dit wat bedreig en daarom gered en bewaar moet word,” sê Christiaan de Swardt, die sameroeper, hoofbeoordelaar en kunstenaar.
“Daarom het die hoofborg - die Gouritz-groepsbiosfeer-reservaat (wat R20 000 se prysgeld bewillig) - Wilhelm de Beer, ‘n natuurkundige en -bewaarder, gewerf om insig oor die uitbeelding van bedreigde en indringerspesies tydens die beoordeling te verskaf. Heelparty ‘mooi’ prentjies moes gevolglik sneuwel, omdat dit nie aan die vereistes van Unesco-vereistes voldoen nie,” sê De Swardt.
“Die beoordelaars het eenparig oor die 25 wenners besin en goedgekeur ten einde aan die volhoubare betekenis van dié projek te voldoen.”
Al die inskrywings sal saam met die 25 wenwerke op 23 en 24 Augustus vanjaar by die Riversdal-burgersentrum ten toon gestel word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’