HESSEQUA NUUS - Die uitvoerende burgemeester, Grant Riddles en speaker van die raad, Andrew Stroebel het Woensdag, 14 Julie hulle sterk teen die onluste en onrus in KwaZulu Natal en dele van Gauteng uitgespreek.
In 'n video-opname wat aan Suid-Kaap Forum gestuur is en ook om Hessequa-munisipaliteit se webtuiste verskyn, het Riddles gesê hy keur die plundertogte en beskadiging van eiendom ten sterkste af.
Stroebel het dit beaam en die gemeenskap gevra om die emosie rondom dit eenkant te skuif en nugter te dink voor hulle enigiets doen wat hulle nie moet doen nie.
Infrastruktuur neem jare om geskep te word en wanneer dit beskadig word, word dienste soos die brandweer, verkeer en ander nooddienste benadeel. Ons het die infrastruktuur nodig, want wanneer dit wel gebeur dat iemand in 'n motorongeluk beland of daar 'n brand is, het ons die noodvoertuie nodig.
"Ons wil egter ons gemeenskap gerusstel dat ons alles in ons vermoë sal doen om elke liewe inwoner en ons sake sal beskerm sover dit binne ons mag is," het Stroebel gesê.
Riddles het weer klem daarop gelê dat die positiewe Covid-19-gevalle bly styg en dat die dra van maskers, asook gereelde sanitering en die sosiale afstand uiters noodsaaklik is.
"Vanaf 15 Julie kan mense tussen die ouderdomme 35-49 ook registreer en vanaf 1 Augustus kan hulle ingeënt word," het hy gesê.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'