HEIDELBERG NUUS - Die drie beskuldigdes wat van bedrog en verskeie ander klagtes aangekla word, het op Maandag 2 September weer hier in die plaaslike landdroshof verskyn.
Die beskuldigdes, Alroy Windvogel (63), 'n afgetrede polisie-mediabeampte van Heidelberg, en sy medebeskuldigdes Elton Anthony (40) van Vredenburg en Emile Roman (29) van Hopefield, word op aanklagte van onder meer bedrog, sameswering om bedrog te pleeg, korrupsie asook regsverydeling, aangekla.
Die aanklagte hou glo betrekking tot die beweerde uitreiking van vervalste padwaardigheidsertifikate vir swaar voertuie.
Die trio is vroeër in ‘n operasie deur die polisie se eenheid teen handelmisdade en die Wes-Kaapse departement van mobiliteit en van verkeersdienste aangekeer na ‘n ondersoek na padwaardigheidsertifikate vir lorries wat op verskeie plekke uitgereik is.
Hulle is nog op borgtog van R2000 en moet nog twee keer per week by hul onderskeie polisiestasies aanmeld. Hulle mag ook geen kontak, telefonies of persoonlik, maak met die twee getuies van die Wes-Kaapse mobiliteitsdepartement of provinsiale verkeer nie.
Die saak is tot Maandag 18 November uitgestel.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’