Update
RIVERSDAL NUUS - Pastoor Francois Barnard het Sondag 13 Januarie die simboliese fakkel as nuwe leraar by pastoor Bernard Pieters oorgeneem.
Francois is nou amptelik die nuwe pastoor van AGS Riversdal, nuwe generasie gemeente. Hy was vir ses jaar leraar by AGS Nuwe Lewe op Boksburg.
Hy is Junie verlede jaar beroep en hy en sy vrou, Mar-Lené het daaroor begin bid. Francois vertel: "Jy moet vrede oor jou besluit hê. Ons het nie net deur Bybelversies bevestiging ontvang nie. Terwyl ons hier besoek en ek gepreek het, het ek absolute vrede ervaar. Alles het gewys dat ons die roeping na dié gemeente moet aanvaar. God se antwoord was duidelik."
Die grootste opoffering vir die paartjie was om hulle familie agter te laat.
Mar-Lené is lief daarvoor om kreatief skeppend met haar hande te werk, sowel met mense en veral kinders. Sy vertel: "Ek sien baie daarna uit om by die kinderkerk betrokke te raak. Dit is 'n groot liefde van my om met mense te werk, funksies te organiseer en alle reëlings daar rondom te behartig." Sy sal ook van nou af die kerkkantoor bestuur.
Francois kan kitaar en dromme speel, hoewel hy slegs kitaar in die kerk speel. "Ek wil op ander se persoonlike geestelike behoeftes fokus. Ons hooffokus sal die kinderkerk en die jeug wees. Ek glo dat wanneer die grondslag reg is, jy vandaar kan bou en aanhou groei. Een van my vooruitsigte is om 'n jeugorkes te begin. Ek is 'n mense-mens."
Hy wou graag 'n akteur word, maar die Here het hom reeds op die jong ouderdom van 17 geroep, vanwaar hy nooit teruggedraai het nie. Mar-Lené en Francois ken mekaar sedert hul hoërskoolloopbaan.
Francois is lief vir sport, hy speel graag gholf en hou van hengel. Aan dié pastoor se humorsin is daar nie keer nie. Die jong gesin geniet die natuurskoon en verwonder hulle daagliks aan die pragtige uitsig en die dorp se gawe mense.
Mar-Lené sê: "Ons is reeds verlief op die atmosfeer wat hier is en die vriendelike, behulpsame mense. Dit voel partymaal nog vir my of ek droom."
Die herderspaar nooi almal vriendelik uit om hul gemeente te kom besoek.
Lees 'n vorige artikel hier: Barnard laat nou die fakkel brand.
Pastoor Bernard Pieterse neem die fakkel na pastoor Francois Barnard en sy vrou Mar-Lené.
Bernard Pieterse oorhandig die fakkel aan Francois Barnard.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'