Om Czeslaw Milosz se 100ste verjaardag te gedenk met voorlesings van ewe bekende digters, Bei Dao (China), Julia Hartwig, Ashok Vajpeyi, Wislawa Szymborska (al drie van Pole), en Natalia Gorbaniewska (Rusland), van hul eie werke, wat deur 'n tolk in Pools vertaal word. En om Auschwitz, net buite die Poolse dorp Oswiecim, te beleef.
Ek het reeds ál wat 'n boek is hieroor onder hande gehad. Anna Frank se dagboek gelees, films soos The Night Porter, Schindler's list en Sophie's Choice kon wel iets hiervan suggereer, maar hoe kan 'n mens jou die omvang van die uitwissingsprogram indink? En ek was immers jare gelede deur die Yad Vashem-gedenkmuseum in Jerusalem reeds hiervan bewus. Maar niks kon my voorberei op hierdie twee kampe in lewende lywe nie.
Ons stap deur die oorblyfsels van die destydse Joodse wêreld. Die Nazi-plan was eenvoudig. Na die besetting van Warschau in 1939 is die invloedryke Joodse sektor afgesluit van en vir "normale" mense. Die Joodse "buurt" is omring met 'n muur van meer as 3m hoog en die lewe van die gemeenskap daarvolgens ingerig. Wat Joods was daarbuite moes verdwyn en binne die mure teregkom.
Die Pole buite die muur kon net met lewensgevaar betrokke raak. Indien iemand betrap is dat hulle Jode op enige manier help, is die hele familie in die openbaar tereggestel. Binne die mure het die aftakeling begin. Ingehok, ondervoed, honger en siek. Die begraafplaas het teen 1941 ophou praat. 'n Vinnige oplossing is bedink. Die doodsmasjien in Auschwitz is in werking gestel.
Die kampe is gebou deur die gevangenes self, met die belofte dat hul arbeid hulle sou vrymaak - die boog staan steeds by die ingang: Arbeit macht frei. As mens kyk dat dié doodskampe in Pole ingerig is, is daar dalk 'n stukkie waarheid dat die gewone Duitsers, ook soldate, nie geweet het van die uitwissing van die Jode nie. Die inwoners sou na "gewone" kampe skuif en die Jode waar omstandighede "beter" sou wees. Van ander internerings- en strafkampe in die besette Europa het die treine meer gereeld met hul beestrokke vol mense vertrek. Gebou na gebou, straat na straat, is die Jode opgeruim, opgelaai en gekarwei na die kampe.
By Treblinka het die bevelvoerder 'n hele valse stasie laat bou, met peronne wat aandui dat die trein vertrek binnekort na 'n volgende bestemming. By Auschwitz het 'n orkes by die ingang gespeel by die aankoms! Hoe wonderlik die vooruitsig as jy stinkend en vuil na die reis hoor jy gaan ontsmet word van dae, weke of maande se luise en ander moontlike infeksies. En dat jy kan gaan stort ...
Eers is die aankomelinge oorgeplaas na woonkwartiere, later sou die trein in Birkenau sommer langs die gaskamers stilhou. Geen tyd om te mors nie. Verslae toon dat dit net so 30 minute geduur het van die aankoms van die nuwe besending om te ontklee vir die ontsmetting, vergas te word in die "stortka-mers" en gestroop te word van enigiets nuttigs voor hulle in die oonde ingestoot is.
In Kamp 1 staan 'n gang vir openbare teregstellings. 'n Binnemuur waar mense by die tientalle geskiet, weggekarwei en in grafkuile gegooi is. Daar gaan ek die geboue binne. Sien hoe daar geleef is, toe dit nog kon. In een vertoonvenster 12m breed en 2m hoog lê berge tasse, koffers: elk met die besitter se naam daarop, volgepak met kosbare besittings vir die hervestiging. In 'n ander kamer skoene; duisende brille; geroes, elders hope krukke en kunsledemate.
Toe die masjien sy loop kry, was alles eenvoudig. By aankoms is jy gekeur - geskik vir werk, en jy kon bly lewe. Voorlopig. Kinders en oues van dae, vroue, gebreklikes, hulle moes gaan stort. Hulle moes uittrek, die vroue se hare is kort geskeer om gesondheidsredes.
Dan die storte. En die einde. 'n Spesiale afdeling, ook Joodse gevangenes, kom stroop die lyke, hare, juwele en goudstopsels uit die tande. Die hare is gebruik vir matrasse of vir 'n fyn materiaal waaruit klere gemaak is.
Dan die krematorium. By Auschwitz is die oonde onder 'n heuweltjie waar jy met trappies afgaan. Steenbakoonde, spoortrollies waarop die lyke maklik ingestoot kon word. Wat oorbly is as en uitgedrupte vet. Laasgenoemde is gebruik vir die maak van seep; die beenmeel was uitstekende kunsmis.
Of dit 2 of 4 miljoen Jode was, word nou nog oor getwis. Wat wel saakmaak is dat die Poolse regering die kamp behou het as herinnering aan hierdie verskrikking. Daarom dat die kompleks tot 'n Wêrelderfenisgebied verklaar is. Sodat ons kan onthou en kan probeer keer dat dit nie weer gebeur nie.
As 'n mens Auschwitz beleef het, is jy nooit weer dieselfde nie. Jy onthou later van die groen bome, die gras, die voëls, die son daar. Selfs die fyn perdeblommetjies wat saadjies uitstuur in die ligte bries. Maar die reuk van die dood sal vir altyd in jou geheue bly. Altyd.

Die was die ablusiegeriewe wat die Jode moes gebruik
ARTIKEL EN FOTO'S: ANTOINETTE KLEIN