RIVERSDAL NUUS - Meer duidelikheid oor kwelkwessies en besware rondom mynprospektering in die Hessequa-streek word by ‘n opedagvergadering verwag.
Belanghebbendes kan môre, Dinsdag 10 September, van 10:30 tot om 20:00 by die burgersentrum in Riversdal antwoorde op hul tergende vrae kry.
Die gesprekke sal eerstehandse inligting bied oor die huidige toestand van bentoniet- en seoliet-prospekteer- en mynaktiwiteite wat binne die Heidelberg- en Riversdal-gebiede voorgestel word.
Johmandie Pienaar, die onafhanklike praktisyn, van Enviro-EAP, sal heeldag beskikbaar wees om navrae te hanteer, voorstelle te ondersoek en om die omgewingsimpakprosesse te evalueer.
Verteenwoordigers van die aansoekermaatskappy, Imerys Refractory Minerals SA (wat handel dryf as Cape Bentonite Mine), sal vanaf 17:00 tot 20:00 by die lokaal teenwoordig wees.
'n Voorlegging oor die huidige aansoeke sal van 18:00 tot 19:00 aangebied word, waarna tyd vir aanvullende vrae van 19:00 tot 20:00 gegee word.
Van die voorstelle vir myn- en prospektering-bedrywighede wat bespreek sal word, sluit gebiede in Kragga, Zeekoekruis en Wegwysersrivier naby Riversdal en die plaas Weideland en ander nabygeleë grondgebiede in Heidelberg in.
Navrae kan intussen aan Johmandie Pienaar by 072 240 3092, per faks by 086 435 4691 en per e-pos by admin@enviro-eap.co.za gerig word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’