SLANGRIVIERNUUS - 'n Weduwee en haar gesin het Saterdagaand 28 Maart feitlik al hul besittings verloor toe hulle tweevertrekhuis deur 'n brand vernietig is.
Dalene Michaels (52), haar seun Christopher (37), twee dogters, Joanie (32) en Alicia (22), asook laasgenoemde se babadogter van nege maande is net met hul klere aan hul lyf gelaat na die huis blykbaar op onverklaarbare wyse net na 20:00 vlamgevat het.
Volgens Michaels woon haar seun in 'n hut agter teen die huis, maar hy was nie tuis nie. Sy en haar dogters het reeds geslaap toe die brand ontstaan het. "Ek het net ingesluimer toe my dogters skree dat die hut brand. Ons moes net so in ons slaapklere uithardloop," het sy geskok gesê.
Sy vertel dat bure alles in hul vermoë gedoen het om die vuur te blus, maar hulle kon nie veel red nie. "Ons kon net twee matrasse red. Ons klere en ons karige meubels het in die slag gebly."
Die familie doen 'n dringende beroep op die gemeenskap om hulp van watter aard ook al. Michaels kan by 076 804 4386 geskakel word.
'Ons bring jou die nuutste Slangrivier, Hessequa nuus'