ALBERTINIA NUUS - Inwoners kan met reg trots wees op Nellis Sauerman, een van die dorp se uitblinkers.
Ter erkenning van sy uitsonderlike prestasie gedurende sy studiejare het die Universiteit Stellenbosch (US) se mediese fakulteit hom Donderdag 8 Augustus met 'n spesiale toekenning vereer.
As een van die dorp se presteerders op akademiese gebied hou sy ervarings op die lewenspad vir elkeen ons 'n paar lesse in. Hy het in 2011 aan die Hoërskool Outeniqua in George matriek met lof geslaag en sewe onderskeidings met 'n gemiddelde A-simbool behaal. Na skool het hy 'n jaar lank op die plaas deurgebring en saam met sy ouers Kosie en Ryna Sauerman geboer.
Met die droom om 'n mediese dokter te word en te spesialiseer, het hy by die US se mediese fakulteit aansoek gedoen vir keuring, maar ten spyte van sy puik matriekuitslae, het hy dit nie gekry nie. Teleurgestel, maar nie moedeloos nie, het hy ingeskryf vir 'n BSc in natuurwetenskappe met die doel om op grond daarvan makliker keuring te kry.
Sy mediese studies het in 2014 'n aanvang geneem. Gedurende sy studiejare het Nellis 'n paar groot uitdagings die hoof gebied, soos toe sy skootrekenaar met sy kursusnotas en aantekeninge een jaar op die vooraand van die eksamen gesteel is. Met harde werk en onstuitbare deursettingsvermoë het hy voortgegaan met sy studies en elke studiejaar met lof geslaag.
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Hessequa nuus'