ALBERTINIA NUUS - Ons het op 'n toe-oë-afspraak in Brakpan ontmoet. Hy het buite op sy motorfiets gesit en wag vir my om uit die huis te kom, gereed om weg te ry as dinge nie belowend gelyk het nie.
Dinge het toe meer as belowend gelyk, hy het nie weggejaag nie en hy is nog steeds aan my sy. En Donderdag 27 Februarie vier ons 70 jaar van gelukkige getroude lewe.
Só vertel tannie Lucy Otto (88) oor haar en die 91-jarige oom Uno se Brakpan-ontmoeting 71 jaar gelede en die mooi pad wat hulle steeds saamloop.
Oom Uno, 'n passer en draaier van beroep, en tannie Lucy is 'n jaar ná die eerste ontmoeting in Brakpan getroud en uit die huwelik is drie seuns gebore. Hulle is regoor Suid-Afrika versprei met hul ses kleindogters en twee kleinseuns. Daar is ook 7 agterkleinkinders, vertel tannie Lucy. "Ons is geseënd, wat kinders is 'n geskenk van God."
Oom Uno het sy beroep in Namakwaland by Alexcor voortgesit voordat hulle in 1994 halt geroep en besluit het om af te tree. Hulle het die Tuinroete platgery op soek na 'n lekker aftreeplekkie en uiteindelik in Albertinia beland. "Al vereiste wat oom Uno gehad het, was 'n kleinerige huis, maar met 'n groot garage vir al sy draaibanke en ander gereedskap. Dié is intussen verkoop, maar hy help nog boere in die distrik uit as hulle vashaak."
Tannie Lucy sê die wenresep vir 'n lang en gelukkige huwelikslewe is om die Here in jou lewe toe te laat en 'n pad saam met hom te stap. Waarop oom Uno reken "hou jou liefs blind en hou jou doof..."
Albei geniet nog goeie gesondheid en bly op hul eie in hul aftreehuis. En oom Uno bestuur nog sy 1970 Chevrolet Constatia sonder enige moeite.
70 gesonde huweliksjare saam is 'n besondere mylpaal en getuig van die ewige liefde en omgee wat twee mense vir mekaar het. "Ons het niks besonder beplan om dié dag te vier nie, want die kinders en kleinkinders is te wyd oor die land versprei. Maar 'n paar vriende sal sekerlik kom inloer."
Is daar in Hessequa, en meer spesifiek in Albertinia, 'n mooier getuigskrif vir ware liefde as juis dié van die Otto's s'n?
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’