Update
RIVERSDAL NUUS - Die plaaslike polisie is raadop met leerders wat verseg om skool by te woon. Dié tendens neem onrusbarend toe, sê adjudant-offisier Hans Busch, en word veral in die ouderdomsgroepe tussen 13 en 15 jaar ondervind.
Hy sê die polisie gaan beslis nie waghond speel en hulle oor die drosters ontferm nie. "Ons het baie belangriker dinge om te doen as om seker te maak leerders woon wel skool by.
"Ouers kom kla verniet en dit help ook nie onderwysers of skoolhoofde bel ons nie. Die polisie gaan beslis nie optree nie. Ons hande is afgekap."
Busch glo die oplossing lê daarin dat die onderwysers by die onderskeie skole, ouers en maatskaplike dienste moet saamspan om die wegblyery aan te spreek. "As die drie partye nie gaan saamwerk nie, gaan die probleem net vererger.
"Maar die probleem het sy ontstaan tot groot mate by die ouerhuis. As ouers nie hul gesag afdwing en hul kinders dissiplineer nie, gaan die probleem nie weggaan nie. Jy kan 'n perd water toe lei, maar ongelukkig nie maak drink nie. As ouers nie streng ingryp nie, is skole se hande ook afgekap."
Busch sê dit gaan die normale verstand te bowe dat jong kinders só met hul toekoms dobbel.
"As jy nie jou skoolopleiding voltooi nie, watse vooruitsigte het enigeen? Wie gaan jou in diens wil neem as jy nie eens 'n matrieksertifikaat kan uithaal en wys nie? Jy is nie bemarkbaar nie, 'n nul op 'n kontrak. Nog 'n Sassa-geval."
Dit wil voorkom of baie van die skooldrosters welsynsgevalle is. "Jy kan daarop peil trek dat daar ernstige huislike probleme by só 'n huis voorkom: afwesige ouers, en dwelm- en drankmisbruik wat die reëls bepaal - en dit werk saam tot swak of feitlik geen dissipline in só 'n omgewing nie."
Busch beklemtoon dat kinders wat toelaes van die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid (Sassa) ontvang, wel wetlik verplig is om skool by te woon.
"As kinders dus dros, is dit belangrik dat dit by Sassa aangemeld moet word. Deur dit te verswyg, kom neer op bedrog en die enigste manier om dit stop te sit is om dit by Sassa en die polisie aan te meld."
Wat omstellend is, sê Busch, is dat daar ouers is wat die Sassa-toelaes gebruik om drank en dwelms aan te koop.
"Dis die voorbeeld wat vir dié kinders in hul ouerhuise gestel word en wat hulle waarskynlik laat besluit basta met skoolgaan. Dis 'n bose kringloop en mens kan kinders in 'n huishouding waar daar geen dissipline nie verkwalik as hulle van skole af wil wegbly nie. Dis of hulle besef hulle is onaantasbaar."
Adjudant-offisier Hans Busch sê kinders wat van die skole af wegbly begin in Riversdal handuit ruk. Foto: Hugo Redelinghuys
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’