HESSEQUA NUUS - Kiesers wat nie op die gewone stemdag, Woensdag 4 November, hul kruisies kan trek nie, het slegs tot vandag, Maandag 12 Oktober, om vir ’n spesiale stem aansoek te doen.
Die sperdatum vir aansoeke is om 17:00, waarna geen verdere aansoeke aanvaar sal word nie.
Kiesers wat op 4 November moet werk, reis of om ander redes nie op die gewone stemdag hul stemlokale kan besoek nie, kan aansoek doen om reeds op 2 of 3 November hul stemme by hul onderskeie stemlokale uit te bring.
Persone wat weens siekte, gestremdheid of ander fisieke beperkings huisgebonde is, kan ook aansoek doen om tuis te stem.
Hoe om aansoek te doen
Aansoeke vir spesiale stemme kan aanlyn deur die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) se webwerf ingedien word.
Kiesers kan die volgende skakel gebruik.
Kiesers wat by hul geregistreerde stemlokale ’n spesiale stem wil uitbring, kan ook hul ID-nommer per SMS na 32249 stuur. Die SMS kos R1.
Die OVK bevestig dat spesiale stemme beskikbaar is vir geregistreerde kiesers wat nie op die gewone verkiesingsdag by hul stemlokale kan stem nie.
Voorsiening word ook gemaak vir kiesers wat weens fisieke beperkings nie ’n stemlokaal kan bereik nie.
Aansoekers sal in kennis gestel word of hul aansoeke goedgekeur is.
Inwoners word aangemoedig om veral bejaardes, persone met gestremdhede en ander kiesers wat hulp met die aansoekproses benodig, betyds by te staan.
Familielede, bure en vriende word versoek om seker te maak dat kiesers wat vir spesiale stemme kwalifiseer, bewus is van die sperdatum.
Die publiek word herinner dat vandag die laaste dag is om hul aansoeke in te dien.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’