MELKHOUTFONTEIN NUUS - Minister Tertuis Simmers, Wes-Kaapse minister van infrastruktuur, het Maandag 19 Desember die eerste vyftig voltooide huise in Melkhoutfontein aan die nuwe eienaars oorhandig.
Presies vyftien maande gelede het hy die eerste sooi gespit vir hierdie nuwe ontwikkeling, wat uiteindelik by voltooiing uit 590 huise gaan bestaan.
Met sy vorige besoek het hy gesê dat hy graag teen April 2023 die eerste huis wil oorhandig en nou kon hy vyftig oorhandig in Desember 2022. Dis is 'n nuwe rekord vir die Wes-Kaap.
Die uitvoerende burgemeester, Grant Riddles, het gesê dat hy daar met 'n blye hart gestaan het. Voor hom het mense gesit wat al meer as 30 jaar vir 'n eie huis wag. Hy en sy raad het al in 2016 besluit dat Melkhoutfontein huise moet kry en uiteindelik is daardie droom nou 'n werklikheid.
Nadat die grond identifiseer is moes daar eers 'n omgewingsimpakstudie gedoen word en daarna moes die infrastruktuur in plek wees. Dit het jare geneem en 'n ekstra reservoir moes gebou word sowel as die rioolstelsel, wat teen R9 miljoen opgegradeer is.
Die burgemeester het vir die nuwe eienaars gesê hulle moet hierdie huise oppas en koester. Hy sê dat hy dankbaar is om die eerste 50 huise te kan oorhandig en die res van die mense moet net geduldig wees.
Riddles het Simmers bedank dat hy Melkhoutfontein as een van sy toptien projekte geoormerk het toe hy in 2019 minister geword het en wat hy vir Hessequa beteken. Simmers het gesê die belangrikste mense teenwoordig is die begunstigdes. Hy het verder genoem dat hoop en geloof hand aan hand gaan, maar daar is ook 'n derde been en dit is menswaardigheid. "Hierdie huise gee daardie menswaardigheid.
"Aan al die begunstigdes: dankie vir jul geduld en veral vir jul wetsgehoorsaamheid. Deur al die jare se gewag het hulle by die reëls gehou en al die vergaderings bygewoon. Hy vra dat die mense wat nou nog wag dieselfde geduld en wetsgehoorsaamheid moet openbaar. Hulle beurt gaan kom."
Simmers het gevra die begunstigdes moet waardeer wat hulle gekry het. "Behou dit as 'n huis en moenie dit in 'n huiswinkel of sjebien omskep nie. Wees trots op jou huis en verfraai jou erf met 'n pragtige tuin. Wys vir die mense hoe jy voel oor jou huis."
Die wyksraadslid vir Melkhoutfontein, Renee Davids, het die begunstigdes gevra om menslik te wees, in broederskap te lewe en om mekaar te help waar hulle kan. Hy het egter ook 'n waarskuwing gerig: as jy 'n sjebien gaan bedryf van jou huis of as jy dwelms gaan verkoop gaan ek kom vir jou.
"Ek sal reël dat jy uit jou huis gesit word en dis nie 'n leë belofte nie."
Foto's: Johan Victor
'Ons bring jou die nuutste Melkhoutfontein, Hessequa nuus'