Alhoewel die wrede moord op Ampie Jansen die grootste beweegrede was vir die groot opkoms het heelwat inwoners ernstige vrae gehad vir polisielede teenwoordig by die vergadering. Buiten vrae rondom die moordondersoek, gebeure op die moordtoneel en misdaad in Melkhoutfontein is heelwat bewerings gemaak van polisie brutaliteit teenoor lede van die gemeenskap.
Die seer is te rou vir vinger wys
Eerw Roode het met 'n sterk boodskap verrigtinge geopen, "'n Man is gestenig terwyl inwoners nog in die kerk was. Ons wys nie vinger nie, die seer is te rou". Sy het die vraag gevra wat die gemeenskap gaan doen as die sewe verdagtes wel borgtog kry? Hoe gaan die gemeenskap reageer, want hul het families in die gemeenskap. "Hulle het gebed meer nodig as ons, waar gaan ons die lyn vanaand trek?".
Raak betrokke by GPF
Frans Malherbe, Gemeenskaps Polisiëings Forum (GPF) voorsitter het sy hartseer, skok en teleurstelling uitgespreek oor die gebeure rondom die moord. Hy het die gehoor aangemoedig om betrokke te raak by die buurtwag, asook om kwartaallikse GPF vergaderings by te woon en betrokke te raak by polisiëring. Hy noem in 'n kommentaar aan die koerant dat hy alle inwoners nooi om by die GPF aan te sluit.
"'n Enkele moord in enige gemeenskap is te veel, ongeag van die motief, metode of omvang daarvan. In hierdie tragiese geval is 'n hele gesin sonder 'n vader en broodwinner gelaat en het dié moord 'n klein dorpie letterlik tot stilstand geruk en het gemeenskapsleiers en inwoners in opstand gereageer". Heelwat gemeenskapsleiers het volgens Malherbe aangedui dat hul bereid is om die GPF en polisie te help.
"My advies is dat instansies soos kerkleiers, gemeenskapsleiers en alle ander organisasies gebruik moet maak van die situasie om inwoners te ondersteun om betrokke te raak by die strukture wat reeds in plek is om hul omstandighede, veral sosiale verval, burgerlike ongehoorsaamheid en misdaad aan te spreek. Die GPF sukkel reeds sedert sy stigting, jare gelede om 'n deurbraak te bewerkstellig om inwoners se vertroue te wen en hul ondersteuning te bekom". Ten slotte nooi hy belangstellendes om kontak te maak met ao D'Emiljo of konst Tarentaal by Stilbaai polisie by 028 754 6100. Inwoners wat by die Melkhoutfontein buurtwag wil betrokke raak kan kontak maak met Christel Conradie. "Daar word 'n dringende beroep gedoen op inwoners om na vore te kom met inligting, ons is dit verskuldig aan Ampie Jansen, asook mekaar".
Melkhoutfontein misdaad oorsig
Ao Morné D'Emiljo, sigbare polisiëring, Stilbaai polisie het 'n kort oorsig oor misdaad in Melkhoutfontein uitgelig. Eerstens het hy genoem dat die laaste sensus toon dat daar 3 600 inwoners woonagtig is in Melkhoutfontein en genoem dat die oorsig moet daarteen gemeet word. Dit strek van 1 Januarie tot 10 Junie. Een moord, aanranding ernstig 71%, aanranding gewoon 70%, inbraak gewoon 50%, openbare geweld 100%, opsetlike saakbeskadiging 61% en minder ernstige misdaad 50%. "Hier is 'n uitdaging vir Melkhoutfontein. Jul vra wat doen die polisie? Ons vra vir inligting. Jul het 'n reg op 'n veilige omgewing, maar die gemeenskap het ook 'n inset om te lewer". D'Emiljo het voortgegaan deur te noem dat die polisie nie die probleem sonder die gemeenskap se hulp kan aanspreek nie. Elke klag moet ondersoek en volgens wet aangespreek word. "The silent partner needs to speak up, vir die behoud van die gemeenskap".
Inwoners stel hul saak
*Marlin Jansen, plaaslike inwoner het sterk woorde op die hart gehad. "Ek is dik vir die swak polisiëring en wil weet waar moet ek aanklop. Wat gaan ons maak as die sewe mans borgtog kry? Is hul nog welkom in Melkhoutfontein? Ek het respek vir beide Ampie, asook die verdagtes se families, wat staan ons te doen?".
*Johannes de Vos, 'n familielid van die oorledene het die vraag gestel wat die polisie se plig is op 'n moordtoneel en of hul 'n lewe moet probeer red of nie. "Die polisie het nie hul hulp aangebied om Ampie te help of te red nie. Daar was twee polisiemanne op die toneel. Ek weet nie wie hulle is nie, maar hulle is nie welkom in Melkhoutfontein nie". Voorts word daar beweer daar is plaaslike polisiemanne wat via die WhatsApp boodskapdiens aanlê by meisies in Melkhoutfontein terwyl hul aan diens is. De Vos is met 'n harde handeklap toegejuig deur die gehoor.
Die verantwoordelikheid van vaderskap
In antwoord het kapt Johan van Tonder, stasiebevelvoerder, genoem dat daar heelwat projekte in Melkhoutfontein is vir die gemeenskap, asook die jeug. "Waar is die pa's in die gemeenskap? Ons moet hande vat en misdaad voorkom. Jul kan by enige geestelike leier of myself aanklop. By Hessequa munisipaliteit is past Gertse". Hy het verder genoem dat niemand van nature sleg is nie, maar dit is mense wat geval het in die lewe. Hy het ook genoem dat dit onwelvoeglik is as polisiemanne aanlê by minderjarige meisies en moet dit onmiddelik aangemeld word. "Meisies van 16 jaar en ouer kan hul eie besluite neem". Ten slotte het hy die pa's in die gemeenskap uitgenooi om betrokke te raak in hul onderskeie woonbuurte, plaaslike GPF, asook buurtwagte. "Jy as pa moet 'n voorbeeld wees vir jou kinders en die gemeenskap".
Bewerings van brutaliteit
Heelwat bewerings van beweerde polisie brutaliteit is gemaak. Hierop het een van die gaste, lt kol Stripp, hoof, sigbare polisiëring, Da Gamaskop cluster geantwoord dat hy, kol Van der Sandt, stasiebevelvoerder, Da Gamaskop Cluster en lt kol Klaassen, oorsig oor speurtak, Da Gamaskop Cluster afgevaardig is deur die hoof bevelvoerder van die cluster, brig Jantjies om juis insae te kry in die knelpunte in Melkhoutfontein. Hierna sal die nodige ondersoeke gedoen word en die nodige optrede en oplossings gevind word.
Marlin Jansen, plaaslike inwoner stel sy vrae.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'