Update
HEIDELBERG NUUS - Drie werkers wat op Dinsdag 10 April in 'n ongeluk op die R305 beseer is, was nog in die hospitaal in George teen ter perse gaan.
Twee werkers het onderskeidelik Dinsdagaand en Woensdagoggend gesterf, terwyl die bestuurder en ses beseerdes van die 12 werkers wat in en op 'n dubbelkajuitbakkie was toe dit gerol het, na behandeling in Riversdal-hospitaal ontslaan is.
Die bestuurder het glo beheer oor die voertuig verloor toe 'n agterband gebars het.
Die bakkie het in die landery tot stilstand gekom, met die beseerdes wat oral gelê het, terwyl die minder ernstige beseerdes geskok rondgestaan het. Hulle het verskeie skouer-, kop-, arm- en beenbeserings opgedoen.
Die oorledenes was beide konstruksiewerkers wat vanaf Stilbaai op pad huis toe was. Die 65-jarige Henry (Stoffie) du Toit, bekende oudrugbyspeler van die destydse Young Stars-rugbyklub en Ferguson Fredericks (52) het onderskeidelik in Riversdal- en George-hospitaal gesterf nadat hulle veelvuldige beserings opgedoen het.
Die beseerdes is op die toneel deur ambulanspersoneel behandel voor hulle na die hospitaal op Riversdal geneem is. Du Toit het later die aand in die teater aan sy wonde beswyk. Fredericks, David Smith, Jonathan Vollenhoven en Victor Williams is na George-hospitaal oorgeplaas.
Ambulanspersoneel op die toneel. INLAS: Links: Stoffie du Toit wat in Riversdal-hospitaal gesterf het. Regs: Fergie Fredericks het in die hospitaal in George beswyk. Foto's verskaf
Een van die beseerdes, Johannes du Toit, jonger broer van Stoffie en die bestuurder, Daniel du Toit wat sy sleutelbeen gebreek het, vertel dat hy kon sien sy broer is ernstig beseer.
"Ek het gesukkel om Stoffie met my een hand op te tel en so gerieflik moontlik te maak."
Volgens lt.kol. Delicia Isaacs, stasiebevelvoerder van Riversdal-polisie word 'n saak van strafbare manslag ondersoek. Du Toit laat nog twee broers, asook twee susters agter. Fredericks laat sy twee dogters, Kaylen en Cassandra agter. Die begrafnisreëlings was teen saktyd nog nie bekend nie.
Stoffie du Toit wat in Riversdal-hospitaal gesterf het.
Fergie Fredericks het in die hospitaal in George beswyk.
Lees 'n vorige artikel: 2 dood, 5 beseer in ongeluk
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'