LEEFSTYLE NUUS - Dispraksie (dyspraxia in Engels), ook bekend as ontwikkelingskoördinasieversteuring, is ’n neuro-ontwikkelingstoestand wat in die kinderjare begin en veroorsaak dat die kind probleme met motoriese (beweging) en koördinasievaardighede ondervind.
Ongeveer 6% van kinders word hierdeur geraak. Hoewel die toestand nie genees kan word nie, kan arbeidsterapie die kind help om hierdie uitdagings die hoof te bied.
Navorsers is nie seker oor die presiese oorsaak van dispraksie nie, maar die uitvoering van gekoördineerde bewegings en motoriese vaardighede is ‘n komplekse proses wat baie verskillende senuwees en dele van die brein behels.
Enige haakplek in hierdie proses kan potensieel lei tot probleme met beweging en koördinasie. Dit lyk wel of babas wat vroeg gebore word en veral voor 32 weke, meer geneig tot dispraksie kan wees.
Ook babas met ’n lae geboortegewig (minder as 1,8 kg) kan geraak word. ’n Familiegeskiedenis van ontwikkelingskoördinasieversteuring blyk ook in sommige gevalle ’n sneller te wees.
Nog ‘n oorsaak kan wees as die swanger ma alkohol en/of onwettige dwelmmiddels gedurende haar swangerskap misbruik het.
Wat is die simptome?
Die kind sukkel met:
- Vroeë ontwikkelingsmylpale soos kruip, loop, om self te eet en aan te trek.
- Teken, skryf en sportdeelname en presteer swakker as hulle eweknieë.
- Koördinasie en motoriese vaardighede.
Die meeste kinders toon reeds tekens van dispraksie op ‘n vroeë ouderdom, maar omdat kinders se ontwikkelingstempo verskil, kan ’n definitiewe diagnose eers gemaak word teen die tyd dat hulle skool toe gaan (5 jaar en ouer).
Omdat daar ook ligter vorms van die toestand teenwoordig kan wees, is dit soms moeiliker om raak te sien.
Babas en peuters
- Verwagte ontwikkelingsmylpale is vertraag, bv. jou kind neem dalk langer om om te rol, te sit, te kruip of te loop.
- Jou kind kan ook sukkel om met speelgoed te speel wat goeie koördinasie verg – soos om bekertjies opmekaar te stapel. Sommige kinders sukkel ook om met lepels en vurke te eet.
Ouer kinders
- Sukkel om trappe te klim – op en af.
- Het balansprobleme – loop vas in voorwerpe, val gereeld of blyk lomp te wees.
- Sukkel met sport en aktiwiteite, soos om fiets te ry, te spring, ‘n bal te vang, te gooi of te skop. Dit kan daartoe lei dat hulle nie wil deelneem nie, juis omrede hulle met hulle koördinasie sukkel.
- Sukkel om te skryf, te teken, in te kleur en ’n skêr te gebruik.
- Sukkel om self aan te trek, knope en veters vas te maak en tande te borsel.
- Is rusteloos en swaai en beweeg hulle arms en bene gereeld.
Hierdie kinders voel dikwels gefrustreerd en omdat hulle so sukkel, vermy hulle aktiwiteite en oefening wat weer tot oorgewig kan lei.
Diagnose
Terwyl baie mense verwys na dispraksie, is mediese kundiges geneig om liewer te praat van ontwikkelingskoördinasieversteuring (DCD in Engels) of spesifieke ontwikkelingsteuring van motoriese funksie (SDDMF in Engels).
Die rede hiervoor is dat die term dispraksie verskeie betekenisse kan hê. Byvoorbeeld, dispraksie kan gebruik word om bewegingsprobleme wat later in ’n persoon se lewe voorkom weens breinskade, te beskryf, soos na ’n beroerte of hoofbesering.
Die toestand moet ook verkieslik deur ’n span kundiges gediagnoseer word wat elkeen spesifieke kriteria vir die toestand sal ondersoek, soos byvoorbeeld jou kinderarts, ’n arbeidsterapeut, kindersielkundige en ’n pediatriese neuroloog.
Die span sal jou kind se groot- en fynmotoriese vaardighede, koördinasie en balans, asook jou kind se verstandelike vermoë assesseer om te bepaal of dit binne die verwagte omvang van hul ouderdom is. Natuurlik moet serebrale verlamming of spierdistrofie ook uitgeskakel word.
Om saam te vat
Howel dispraksie nie genees kan word nie, is dit ’n toestand wat met die regte terapie en begrip bestuur kan word. Benader elke geval op sy eie, maak aanpassings, doen goed anders – op die ou end sal jou kind die meeste take en aktiwiteite kan baasraak – maar net teen sy eie tempo.
En dit wat onmoontlik is, en tot angs en depressie kan lei? Los dit en moedig jou kind aan om iets anders te doen wat hy wel kan baasraak. Ons hoef nie almal eenders te wees nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’