SWELLENDAM NUUS - Die Wes-Kaapse minister van mobiliteit, Isaac Sileku, het Donderdag 16 Oktober in Swellendam die Operator Helpdesk on Wheels amptelik bekendgestel - 'n mobiele diens wat daarop gemik is om regeringsdienste direk na openbare vervoeroperateurs in die hele provinsie te bring.
Die inisiatief, wat deel vorm van die provinsie se Mobiliteitsmaand-program, is ontwikkel deur die departement van mobiliteit en fokus op groter toeganklikheid en doeltreffendheid, veral vir operateurs in afgeleë en landelike gebiede.
Die Operator Helpdesk on Wheels bied 'n verskeidenheid dienste aan persone in personeel-, skool-, kleinbus- en minibustaxi-vervoer.
Dienste sluit in die hernuwing van bedryfslisensies en permitte, voertuigregistrasie, raadgewende ondersteuning en padveiligheidsbewusmaking.
Spesiale hulp word ook gebied aan bejaardes en persone met gestremdhede.
Die mobiele diens sal op 'n rotasiebasis dorpe en distrikte besoek, in samewerking met plaaslike munisipaliteite, raadslede en vervoerverenigings.
"Met elke stop van hierdie voertuig herstel ons geloof, lewer waarde en verander lewens," het Sileku gesê.
"Ons neem dienste na waar dit die meeste nodig is - in gemeenskappe, op die pad, en in die harte van ons mense."
Joseph Davids van die Swellendam-taxivereniging het sy dank uit-gespreek en gesê die projek spaar operateurs tyd en geld.
Raadslid Elna Lamprecht, namens die burgemeester, het die inisiatief geloof as 'n uitstekende voorbeeld van vennootskap wat dienste nader aan die mense bring.
Die projek ondersteun die depar-tement se doel om nakoming te verbeter, kongestie by kantore te verminder en dienslewering in die vervoersektor te versterk.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’