HEIDELBERG NUUS - By Heidelberg se gemeenskapsleersentrum in Diepkloof is dit besonder bedrywig hierdie jaar.
June Davids bestuur die sentrum wat verskillende opleidingprogramme, soos met volwasse basiese opvoeding en opleiding (VBOO) namens Hoër Onderwys en Opleiding aanbied. Sy word bygestaan deur haar personeel van drie; Theresa Bayman, Riaan October en Cupido. Die sentrum het 'n totale inskrywing van meer as 200 leerders wat vyf verskillende vakrigtings volg.
Daar is studente in die vroeë kinderontwikkeling (ECD)-klas; vlak 4 (matrikulante); leerders wat vir graad 8 en 9, asook laer vlakke ingeskryf is, terwyl studente in die Entrepreneurvaar-dighede-afdeling hulle regmaak om eersdaags hulle eie besighede te begin. Daar is leerders oud en jonk wat deur vlak 4 werk en dan hulle matriek aanpak – twee of drie vakke per jaar!
Die sentrum maak ook voorsiening vir jeugdiges wat die pad byster geraak en met die gereg gebots het. Die maatskaplike werkers bring sodanige leerders vir klasse en monitor hulle vir 'n sekere tydperk om te bepaal of hulle terug in die hoofstroom geplaas kan word. Sulke jeugdiges en hulle ouers sit twee keer per week in lewensvaardigheidsessies wat deur die maatskaplike werkers en die sentrumpersoneel gehou word.
Baie van die leerders wat by die sentrum klaar gestudeer het, is vandag in vername posisies in die gemeenskap. Baie leerders val jaarliks om een of ander rede uit die gewone skoolstelsel, of raak so hopeloos agter dat hulle op die ou end na die leersentrum verwys word.
Baie van die leerders wat deur omstandighede gedwing is om vroeg skool te verlaat, kom daar op hul eie hul skoolloopbane hervat onder aanmoediging van 'n personeel wat verstaan. Hulle het intussen geleer hoe moeilik dit is om sonder 'n matrieksertifikaat 'n goeie werk te kry.
Die Jeugsentrum het ook toegang tot 'n ten volle uitgeruste fasiliteit vir rekenaargeletterdheid - net langsaan. Hier is Alana Adams aan die stuur. Dié fasiliteit word bedags en veral in die middae deur leerders van die laer- en hoërskole gebruik om die basiese tegnieke van rekenaargeletterdheid aan te leer, naslaanwerk te doen en om inligting vir hulle take te kry.
Die plek dien ook die breë gemeenskap, want nie almal beskik oor 'n skootrekenaar of slimfoon nie.
Sowat 'n halfmiljoen kinders verdwyn êrens langs die pad - die meeste, volgens navorsers, tussen graad 8 en 10. Wat word van hulle? Dis waar plekke soos die gemeenskapleersentrum inkom. Meer en meer jongmense besef deesdae die belangrikheid van sulke plekke, 'n aandskool en selfstudieplekke soos Unisa.
Die sentrum wil graag uitbrei en meer kursusse en programme aanbied, maar ondervind soms probleme om genoeg leerders ingeskryf te kry vir kursusse.
Die onderwysdepartement verlang dat inskrywings per kursus so hoog soos 60 of 80 moet wees voor hulle dit as vak kan registreer en subsidieer. Daar is te min inskrywings vir byvoorbeeld vlak 5 (VBOO/ABET) en vir BEd (grondslagfase), hoewel 'n hele paar mense in Riversdal en Heidelberg reeds navraag gedoen het.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'