RIVERSDAL NUUS - Die einde van 'n era toe die publiek met brandstof bedien was en die inhoudsmaat nog in gellings en geldeenheid ponde was, het aangebreek met die dood van Joseph Moses op Vrydag 23 Maart.
Joseph, meet bekend as Soppie, is gebore in 1936 in die Diepkloof-distrik, Albertinia. Hy het skoolgegaan by Bergfontein EK Primêr, waar mnr. Charles Marcus die prinsipaal was.
In 1955 begin hy by Johnnie de Vries se motorwerkswinkel as petroljoggie te werk. Die besigheid was in die hoofstraat, direk oorkant die poskantoor. Op 2 April 1957 tree hy in die huwelik met Katrina Amsterdam. Uit die huwelik word ses kinders gebore. Sy sterf op 24 September 2014 na 'n huwelik van 57 jaar.
De Vries-garage sluit in 1966 en Soppie begin as petroljoggie by Van Riebeeck Motors van Tobie Jackson en Heinrich Hertz. In 2001, na 'n tydperk van 35 jaar diens gaan hy op pensioen.
By St. Andrews Anglikaanse Kerk was hy vir 45 jaar betrokke as leke-bedienaar. Hy was ook betrokke by die kerkbrigade (church lad brigade), IOTT (Independent Order of True Templars), asook die Band of Hope. Die IOTT is 'n organisasie wat gekant is teen die algemene gebruik van alkohol en is gestig in 1889.
Die begrafnisdiens om hierdie merkwaardige en toegewyde werker se lewe te herdenk, geskied op Saterdag 31 Maart uit die St. Andrews Kerk om 10:00.
ARTIKEL: KEITH EKSTEEN, SUID-KAAP FORUM KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'