LEEFSTYLNUUS - Wanneer 'n mens woorde saamsnoer in 'n sin is die pouses, tussen gedagtes, net so belangrik soos die woorde waaruit die sin bestaan. Dieselfde geld vir werk en speel.
Soveel klem word op skoolwerk en prestasie geplaas dat ouers die belang van pouses, oftewel speeltyd, dikwels onderskat.
Dit is immers die tyd wanneer kinders hulself ontdek, met maats kommunikeer en dinge doen wat kleur aan die dag gee. Akademiese druk, oorvol naskoolse programme en min vrye tyd kan selfs depressie by jong kinders tot gevolg hê.
Elana Botes, 'n maatskaplike werker en eienaar van 'n plaaslike nasorg, benadruk die belang van speeltyd: "Ek dink so baie keer aan die laat someraande wat ons buite gespeel het, en vandag is dit ‘n totaal ander prentjie.
Die strate is nie meer so veilig soos tien jaar gelede nie. Kinders se vryheid is baie meer ingeperk as ‘n paar jaar gelede."
Die strate is nie meer so veilig soos tien jaar gelede nie.
By Botes se nasorg word kinders aangemoedig om te speel. "Party keer moet ek die ouers om verskoning vra dat die kinders so vuil is as hulle hulle kom haal soos wat hulle agter die karretjies kruip, hul eie speletjie uitdink, hulle eie skeppings bou met Lego en Jenga-blokke... om van die rugby, krieket- en dumpie-wedstryde nie te praat nie," het sy gesê.
"Deur spel ontdek kinders hul omgewings, hulself en ander mense. Spel is ook belangrik vir liggaamlike en kognitiewe ontwikkeling. Dit is ook belangrik vir die ontwikkeling van hul sintuie.
"Een van die gunstelinge by die nasorg is om modderkoekies te bak en so word hul tassintuie ontwikkel. Die belangrikheid van speel kan nie oorbeklemtoon word nie en tussen die huiswerk deur sal ons altyd ‘n tydjie maak vir speel."
Speeltyd is baie belangrik vir ontwikkeling.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'