HESSEQUA NUUS - Jaarliks word daar in die maand Augustus stilgestaan om die merkwaardige opmars van sowat 20 000 vroue van oor die hele land op die dag van 9 Augustus 1956, teen die dra van pasboeke en vroueverdrukking te herdenk.
Die kollig val vir die maand veral op die mees kwesbaarste in die gemeenskap wat besluit het, 'Genoeg is genoeg!' Op dié dag in 1956 het vroue by die Uniegebou in Pretoria saamgetrek om hul teenstand teen hul mishandeling as swart vroue fisies en tasbaar vir die regering van die dag te wys.
Uit die verskillende hoeke van die land het duisende petisies gekom wat voor die deur van die eerste minister, JG Strijdom gelaat was toe hy nie self uitkom om dit te ontvang nie. Die organiseerders, die Federation of South African Women (FEDSAW), onder leiding van die ontslape Albertina Sisulu, het gesorg dat die leierskap verteenwoordigend was, om die sein uit te stuur dat Suid-Afrika se vroue bankvas bymekaar staan.
Sophie Williams-de Bruyn, Rahima Moosa, Helen Joseph en Lilian Ngoyi het die verskillende groepe uit die samelewing verteenwoordig.
'wathint' abafazi, wathint' imbokodo' ' (You strike a woman! You strike a rock!) as slagspreuk het die dag oral opgeklink en is vandag nog die slagspreuk waar vroue teen mishandeling en onderdrukking betoog.
Op Vrouedag word jaarliks indringend gekyk om veral gemarginaliseerde vroue se lewens op verskillende maniere te verbeter - deur verbeterde maatskaplike toesig, geletterdheid en beter beskerming deur die land se howe; na waar kinders ly as gevolg van werkloosheid en drankmisbruik deur die ouers en waar dwelmverslawing huishoudings oorneem.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'