ALBERTINIA NUUS - As 'n swanger ma drink, drink haar ongebore baba saam.
Die Wes-Kaap gesondheidsdepartement het tydens 'n gemeenskapsuitreik op Fetale Alkoholspektrumversteuringsdag (FASV) op 19 September op die gevare van alkoholgebruik tydens swangerskap gewys. Gemeenskapsgesondheidswerkers het soveel as moontlik swanger vrouens besoek, inligting daaroor uitgedeel en vrae beantwoord.
"Suid-Afrika het een van die hoogste voorvalle van FASV ter wêreld. Die Wes-Kaap word veral geraak deur die ernstigste FASV-gevalle, naamlik fetale alkoholsindroom (FAS)," sê Nadia Ferreira, die departement se woordvoerder.
FASV-feite
- FAS is 100% voorkombaar;
- FAS is die belangrikste voorkombare oorsaak van verstandelike vertraging;
- Alkohol tydens swangerskap veroorsaak permanente breinskade;
- Daar is geen veilige alkoholgebruik tydens swangerskap nie;
- Selfs een drankie stel die gesondheid van 'n ongebore baba in gevaar;
- FAS is 'n lewenslange en onomkeerbare gestremdheid;
- Simptome mag nie ooglopend wees tot 'n kind drie of vier jaar oud is nie;
- FAS kom voor onder alle rasse en sosio-ekonomiese groepe;
- Daar is geen kuur vir FAS nie.
Kortom, as 'n ma drink, drink die ongebore baba saam. Besoek jou naaste kliniek vir meer inligting.
Gemeenskapgesondheidswerkers is agter, van links: Ursula Petersen, Stefanie Erasmus, Nocolize Moses, Claudel Draai (distrikkantoor), Andrea Prins, Ashley Kiewiet Prins, Esmeralda Prins. Voor: Lucinda Pietersen en Dalena Hansen
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Hessequa nuus'