HESSEQUA NUUS - Onlangse navorsing toon dat 92% van afgestudeerde studente meen dit is die moeite werd om self verantwoordelikheid vir jou studiegelde te neem, selfs al betaal hul nog aan hul studies af.
Dit is van die bevindinge wat blyk uit 'n navorsingstudie wat Solidariteit Helpende Hand se Studiefondssentrum onder 300 afgestudeerde studente wat tussen 2015 en 2017 studeer het, gedoen het. Hierdie studente is almal deur die Studiefonds-sentrum met rentevrye studielenings gehelp om te studeer.
Die doel van die verslag was om uit te vind tot watter mate hul studies hulle beroepe bevorder het. "Dit is opvallend dat hoewel 74% van die kandidate nog die finansiële las voel om elke maand hul studieskuld af te betaal, hulle steeds van mening is dat dit die beste is om self aanspreeklikheid vir hul studiekostes te aanvaar," het Stefan Pieterse, hoof van Solidariteit Helpende Hand se Studiefondssentrum gesê.
Dit is verder opvallend dat die werkloosheidsyfer onder hierdie studente slegs 7,39% is, in vergelyking met die nasionale gemiddeld van 26,7%.
Volgens Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga, "Kos sogenaamde gratis tersiêre onderrig natuurlik nie niks nie. Dit is beter dat individue en gemeenskappe vrywillig voorsiening maak vir die befondsing van verdienstelike studente se studies."
Solidariteit Helpende Hand se Studiefonds-sentrum bied reeds sedert 2008 finansiële studiehulp in die vorm van rentevrye studielenings aan behoeftige studente en het oor die afgelope 10 jaar R156 miljoen bestee om 4 230 behoeftige studente se studies aan tersiêre instellings regoor Suid-Afrika moontlik te maak.
"Ons droom is dat elke student wat wil studeer, moet kan studeer, maar die navorsing het weer bewys dat enigiets van waarde met 'n prys kom."
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'