STILBAAI NUUS - Die Vroue Landbouvereniging (VLV) van Stilbaai het Dinsdag 14 Julie hul maandelikse byeenkoms met 'n feestelike Christmas in July-tema gehou. Die Openbare Sake-portefeulje was verantwoordelik vir die aanbieding en het Die Waenhuis by Jagersbosch met pragtig versierde tafels en 'n Kersboom met liggies in 'n egte Kersfees-atmosfeer omskep.
Gasspreker Nico Steenekamp van die parkrun-beweging het meer vertel oor die gewilde 5 km-stap-en hardloopinisiatief en die voordele daarvan. Dat die boodskap aanklank gevind het, is beklemtoon deur VLV-sekretaresse Louise Jansen, wat die vorige Saterdag haar 100 ste parkrun voltooi het en die ander lede aangemoedig het om ook deel te neem.
Marina van Rensburg het praktiese wenke gedeel oor die maak van dekoratiewe geskenksakkies en die kreatiewe gebruik van tuisgemaakte geskenkpapier. Daarna het die lede self hul hand aan die kunswerk gewaag, wat vir heelwat pret en gelag gesorg het.
Rensia Thompson, voorsitter van die Openbare Sake-portefeulje, het interessante wenke oor tafeletiket gedeel en lewendige gesprekke onder die lede ontlok.
Die gesellige middag is afgesluit met koffie, tee en 'n groot verskeidenheid tuisgebak waarvoor die VLV bekend is.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’