ALBERTINIA NUUS - Dit was nog altyd die 19-jarige Lionel Jantjies, Mnr. Tiener Wes-Kaap (Mr Teen Western Cape) se doel in die lewe om mense te help.
Hy het 'n liefde vir modelwerk op die ouderdom van 16 jaar ontdek toe hy aan Mnr. EDENfm 2015 deelgeneem het. "Dit was 'n groot stap vir my, omdat ek totaal en al niks van modelwerk af geweet het nie, maar die volgende woorde was altyd in my agterkop: Glo in jouself en doen net jou bes."
Hy het onder die topvyf geëindig, maar dit het hom nie afgesit of enigsins ontmoedig nie. In 2016 neem hy aan Mnr. DA Albertinia deel en word gekies om Albertinia by Mnr. DA Hessequa te verteenwoordig. Hy staan as die beste kandidaat en deure het daarna vir hom begin oopgaan. Hy het Hessequa en Eden se tieners by die Mnr. Tiener Wes-Kaap 2018 op Franschhoek verteenwoordig. "Dit was nie net 'n beauty pageant nie, maar het baie liefdadigheids- en gemeenskapswerk, asook tyd saam met die beoordelaars geverg."
Onder al die tieners wat deelgeneem het, was hy die beste en stap met die titel weg.
Lionel verower boonop 'n tweede plek in die Mr Photo Unique SA, 'n fotogeniese kompetisie wat elke jaar plaasvind en waaraan enige Suid-Afrikaanse individu kan deelneem.
Die sukses wat hy tot dusver behaal het en drome wat verwesenlik is, moet 'n inspirasie vir ander jongmense wees om nie moed op te gee nie, maar hard te werk om daardie drome te verwesenlik.
"In hierdie kort tydjie het ek baie uitdagings in die gesig gestaar om my drome te bereik - alles te danke aan ons Hemelse Vader en my fantastiese ouers. Vir my is dit net die begin van 'n blink toekoms. Daar is baie in die vooruitsig vir volgende jaar."
Hy is ook besig om my besigheidsbestuur N4-kursus te voltooi en beplan om volgende jaar deur Unisa Toerismebestuur te studeer.
Lionel is 'n kelner by die Garden Route Game Lodge en hy help ook uit by Albertinia Youth Development Coucil (AYDC).
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Hessequa nuus'