HESSEQUA NUUS - Is kinders wat voor skool vir vervoer moet wag werklik veilig?
Meeste leerders moet óf skool toe stap, fietsry óf vir die bus of taxi wag. Almal is nie so bevoorreg dat mamma of pappa hulle voor die skoolhek kan aflaai nie. Dit het onder Suid-Kaap Forum se aandag gekom dat leerders veral gedurende wintertye, terwyl dit steeds donker is, vir vervoer moet wag en nie baie sigbaar is nie.
Skole in die streek is gekontak om uit te vind wat hulle van hul kant af doen om kinders se veiligheid te verseker.
Meeste skole stem saam dat dit eerstens die ouers se verantwoordelikheid is om sy of haar kind veilig te hou en van veiligheid te leer.
Hoërskole
Hoërskool Heidelberg het geen busroetes nie, terwyl meeste van die Hoër Landbouskool Oakdale se seuns in die koshuis tuisgaan, wat op die skool se perseel is.
Hoërskool Langenhoven maak seker dat hul leerders veilig bly deur te sorg dat al die busse padwaardig is. Leerders word bewus gemaak van veiligheid en om versigtig en paraat te wees. Hulle word slegs by bushaltes opgelaai.
Hoërskool Albertinia kan nie bekostig om vir hul leerders reflektiewe baadjies of alternatiewe te koop nie. Meeste van dié skool se leerders loop skool toe en noem dat 'n borg verwelkom sal word.
Kairos Sekondêr het reeds baadjies met reflektiewe stroke op aan leerders wat alleen vir vervoer moet wag geskenk. 'n Groot groep kinders het 'n bushalte wat die nodige beskerming bied, waar hulle kan wag. Indien daar kinders is wat graag van die baadjies wil hê, doen die skool moeite om vir hulle te kry.
Laerskole
Volschenk het leerders geïdentifiseer wat reflektiewe baadjies dra, terwyl hulle ander bystaan wanneer hulle oor die pad moet beweeg.
De Waalville Primêr voel dat reflektiewe kleefband by busstoppe opgesit moet word om dit meer sigbaar te maak. Daar is reeds by elke bushalte 'n 'busprefek' aangestel vir wie die skool 'n reflektiewe baadjie wil kry.
Baie alternatiewe wat gebruik kan word om leerders meer sigbaar te maak, is vandag beskikbaar.
Die skole verwelkom enige borgskap wat kan help met kinders se veiligheid. 'n Kind se veiligheid is nie 'n luuksheid nie, maar 'n noodsaaklikheid.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'