RIVERSDAL NUUS - Sleeping Beauty Quilters het 'n gestikte kwilt ter waarde van R3 500 op Donderdag 26 Julie aan huis Wallace Anderson geskenk.
Dit bestaan uit 20 blokke wat deur 20 verskillende vroue gestik is, almal lede van dié klub. Hierdie projek was die 2017-voorsitter, Marguerite Koch, se inisiatief. Dit kan nou op 'n manier gebruik word om geld vir die huis in te samel.
Vanjaar se voorsitter, Esther Snyman, het gesê: "Ons probeer om jaarliks 'n projek van stapel te stuur. Dit help om ons groep bymekaar te bring, hou ons besig en sodoende kan ons iets vir die gemeenskap teruggee."
Met dié projek moes elke lid minstens een blokkie van die deken stik. Elkeen het 'n beurt gehad om te demonstreer hoe sy daardie blokkie beplan en gestik het. Dit het weer gehelp dat almal by mekaar kon leer en verskillende tegnieke baasraak.
Die groep verwelkom nuwe lede en kom elke derde Donderdag van die maand by NG Kerk, Riversdal-Wes bymekaar.
Indien jy graag meer stiktegnieke wil leer, kontak Snyman by 072 612 3284.
Sou jy in die deken belangstel, kontak huis Wallace Anderson by 028 713 3626 of 028 713 3608.
Sylvia Kirkman neem die gestikte deken in ontvangs. Van links is Kirkman, Marguerite Koch en Esther Snyman. Foto: San-Marié Cronjé
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'