Update Video
RIVERSDAL NUUS - 'n Staking wat Jireh Dairies die afgelope week lamlê, duur steeds voort.
'n Gesprek tussen die werkgewer en die vakbondverteenwoordigers Dinsdag 22 Oktober het op niks uitgeloop nie.
Die staking waaraan 150 van Jireh se werkernemers deelneem, het Woensdag 17 Oktober by die kaasfabriek in die industriële gebied begin. Die werkers het omstreeks 06:00 by die fabriek opgedaag, in sirkels gedans en luidrugtig opruiende liedjies gesing.
"Hierdie is 'n vreedsame staking," het Zamele Rawe, die organiseerder van die staking, wat in 'n groot motor by die fabriek opgedaag en A4-grootte plakkate aan die stakende werkers uitgedeel het, gesê.
"Ons eis 'n loonverhoging en voorsieningsfonds," het Pumelelo Macewan, die vakbondverteenwoordiger vir die South African Clothing and Textile Workers' Union (SACTWU) gesê. Die vakbond is by Cosatu geaffilieer. Volgens hom het die werknemers sedert die begin van die jaar 'n loonsverhoging met Jireh probeer beding. Hulle het sedert April reeds drie keer samesprekings met die Kommissie vir Bemiddeling, Konsiliasie en Arbitrasie (KBVA) (Engels CCMA) gevoer. "Die CCMA het gesê ons moet teruggaan na die werkgewer. Maar Jireh sê elke keer hulle moet eers na hul geldsake kyk voor hulle tot 'n loonsverhoging kan toestem."
Kyk 'n video hieronder:
Morné van Staden, wat die afgelope drie jaar by Jireh werk, het gesê die werkers se grootste probleem is die salaris. Hoewel hulle sedert Januarie vanjaar die minimumloon van R20 per uur ontvang, eis hulle nou R50 per uur. "Ons wil ook 'n provident fund hê, want as ons iets oorkom of te oud raak om te werk, kry ons niks uit nie."
Daar is 175 mense in Jireh se diens, die topbestuur ingesluit. Die groep bestaan onder meer uit 'n melkery met sowat 600 produserende koeie. Die fabriek, wat afhangend van die seisoen ongeveer
150 000 tot 300 000 liter melk per dag verwerk, verskaf werk aan sowat 60 mense. Die aanleg by Resiesbaan waar ongeveer 250 ton suiwelgebaseerde produkte per maand verpak word, verskaf werk aan sowat 90 mense.
Die KBVA het toestemming vir 'n vreedsame staking gegee. "Hul mag ons egter nie verhinder om ons werk te doen nie, maar hulle verhinder ons wel en is geweldadig" sê Zane Smith, algemene bestuurder. "Die fabriek verloor tans sowat R1 000 000 se omset per dag. Dit kos die fabrieke vir wie ons op kontrak melk verwerk, ook duisende rande omdat hul die melk elders moet laat verwerk.
"Ons sal maande, of selfs 'n jaar lank moet werk om die verliese in te haal, indien ooit. Ons loop ook die gevaar om kontrakte te verloor, wat ons 'n slegte naam sal gee en dit gaan baie moeilik wees om weer die kontrakte terug te kry of nuwes te bekom. Die staking is baie negatief vir ons en dus ook vir die hele Riversdal-gemeenskap."
Volgens hom word die melk- en verpakkingsbestellings met die paar personeellede wat wel werk, hanteer. "Ons het ook bereidwillige personeel van Riversdal en Albertinia ingebring en 15 werkers van Workforce in George word aangery."
Volgens Smith bly die onderneming streng binne die raamwerk van die wet. "Die personeel ontvang die minimumloon nog voor dit vereis word. Die groter meerderheid van die personeel verdien baie meer as dié loon as gevolg van die geleentheid om oortyd te werk; beter poste wat meer kundigheid verg, verdien ook meer. Hulle is ook soos die wet vereis vir werkloosheidsversekering geregistreer."
Jireh vervoer die personeel gratis of verskaf 'n vervoertoelaag aan personeel wat op die plaas en die verpakkingsaanleg werk. Fabriekswerkers kom op hul eie by die werk.
"Daar is nie op die oomblik 'n pensioen- of voorsieningsfonds in plek nie. Ons bied die werkers die geleentheid om ekstra geld te verdien wanneer ons ekstra produkte vervaardig.
"Dit is egter in ons visier en ek ondersoek die moontlikheid om dit in die nuwe finansiële boekjaar 2019/2020 te begin implementeer."
Pumulelo Macewan, vakbondverteenwoordiger by Jireh Dairies.
Lees 'n vorige artikel hier: Staking sleep voort
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'