Die verrigtinge is deur verteenwoordigers van CapeNature se Grootvadersbosch en hul hoofkantoor, asook werkers van die onderskeie projekte bygewoon en deur die immergroen seremoniemeester, mnr. Leonard Adams geopen. Hy het met vlugtige opsommings en kwinkslae die aanwesiges op humoristiese wyse aan die belangrikheid van dié dag en maand herinner.
Eerw.Thomas Meyer het die geestelike vereistes met skriflesing en gebed gehandhaaf. Me. Merle Paige, voormalige MIV/VIGS-berader en gasspreker het die aanwesiges, maar veral die jonger vrouens, aangemoedig om weer die waardes en trots van vrouwees, na te streef.
"Hou op om met slaapklere in die pad gesien te word. Maak jou mooi vir jou man of kêrel en wees gesteld op jou voorkoms," het sy gemaan. Sy het ook gewaarsku teen die euwels van drank en dwelmmisbruik en hulle daaraan herinner om nie die opoffering van die vroue van 1956 te vergeet nie.
Verskeie ander sprekers, waaronder mnr. Ian Allen, bewaringsbestuurder: Grootvadersbosch, me. Andiswa Boso, CapeNature hoofkantoor verteenwoordiger en mnr. Edward Manganyi, CapeNature, gemeenskapsbewaringsbestuurder, het die vroue daaraan herinner dat hulle hul regmatige plek in die samelewing moet inneem. Laasgenoemde het hom veral daarop toegespits om hulle aan te spoor om gebruik te maak van geleenthede om as kontrakteurs hulself ekonomies meer te bemagtig.
Tydens die geleentheid is daar spesiale erkenning aan twee vroue kontrakteurs gegee. Mee. Cynthia Cillie en Yolandé Cupido, onderskeidelik van die Duivenhoks- en Buffeljagsprojekte, het sertifikate vir uitmuntendheid, asook 'n geskenk van me. June Pretorius, projekbestuurder in ontvangs geneem. Pretorius het op haar beurt die vroue daaraan herinner dat niks meer in hul pad staan nie. "Alles is moontlik en haalbaar as jy net wil, maar onthou, niks is mahala (verniet) in die lewe nie. Dit val nie in jou skoot nie, jy moet daarvoor werk," het sy benadruk.
Die aanwesiges is ook deur geestelike sang en dans, asook gedigvoorlesing deur Lauren Green, die JF Neumann Sondagskooldansers en Jacoline Fielies getrakteer. Mnr. Ricardo Januarie het almal hartlik bedank vir hul opkoms en ondersteuning voor daar aan die lekkernye gesmul is.

'n Deel van die groot groep aanwesiges by die Vrouedagvieringe van CapeNature in die JF Neumann Memorial Congregational kerksaal.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg | Hessequa nuus'