HEIDELBERG NUUS - Die uurglas is vinnig besig om uit te loop na die aanloop na die Wêreldkaraokekompetisie wat vanaf 14 tot 18 November in Helsinki, Finland plaasvind - en wat deur die dorp se eie Denice Marais verteenwoordig gaan word.
Marais (22) is die oudste van vyf kinders en is vroeër vanjaar as die Suid-Afrikaanse karaokekampioen aangewys na 'n strawwe nasionale kompetisie wat oor die bestek van 'n paar weke plaasgevind het. Sy het op die plaas Hooikraal buite Heidelberg grootgeword en het daar gebly tot gr. 8 toe sy dorp toe moes gaan om Kairos Senior Sekondêr by te woon.
Sy praat met groot gemak van hoe sy gehelp het om koeie te melk, wegkruipertjie speel in die landerye en lang afstande moes loop om by die skool te kom. Sy onthou dat sy van kleins af altyd gesing het, sommige kere tot raserny van die res van die familie. Haar ma, Liza en pa, Lewies was al twee plaaswerkers, maar hulle het in Desember 2016 Heidelberg toe getrek.
Sy het haar matriekjaar in 2012 voltooi en vir 'n drie jaar toerismekursus by Suid-Kaap Kollege ingeskryf, maar moes na 'n suksesvolle jaar terug huis toe as gevolg van 'n tekort aan geld. Terug by die huis het Marais voortgegaan om haar liefde vir sang uit te leef. In 2014 doen sy 'n internskap en daarna begin sy as 'n algemene werker by 'n besigheid werk wat fotorame vervaardig. Volgens haar is onderwys haar eerste beroepskeuse, maar sy wou nog altyd iets substansieel in sang doen.
Haar paadjie na die topposisie was nie sonder uitdagings nie. Toe sy in die eerste plaaslike ronde van die kompetisie op Albertinia moes gaan sing, het sy amper die geleentheid gemis omdat sy op 'n rygeleentheid saam haar oom gewag het.
Hy moes egter op die betrokke dag oortyd werk en het sy op hete kole by die huis gewag. Sy het dit net-net gemaak - en die res is geskiedenis.
Volgens haar afrigter, David September, wat tweede in die 2006-wêreldkompetisie was, gaan sy teen sterk kompetisie te staan kom. Daar is tans 27 lande wat aan die kompetisie deelneem en menige deelnemers grens aan professionele verhoogkunstenaars.
Sy het egter finansiële bystand dringend nodig en is die afgelope tyd op eie houtjie besig met 'n geldinsamelingsprogram. Sy sal enige hulp in die vorm van kontant of dienste hoog op prys stel. Belangstellendes kan haar skakel by 062 784 7483.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'